


KOREAANSE BIEFSTUK VINGERS
Biefstuk van jou keuse (hoeveelheid wissel volgens jou omstandighede)
1 fyngekapte ui
4 fyngemaakte knoffelhuisies
5 eetlepels soyasous
2 eetlepels sesameolie (omdat dit baie duur is, gebruik ek olyfolie)
50g suiker
2 eetlepels medium droë sherry
50ml beesekstrak
sout en ‘n knippie peper van jou smaak
Sny die biefstuk in dun vingergrootte repe en plaas in ‘n marineerbak. Meng al die ander bestanddele saam en giet oor die vleis. Bedek en laat marineer vir so lank as moontlik, maar nie korter as 1 uur nie. Verhit die oondrooster tot hoog en plaas die vleis op ‘n bakplaat en rooster vir 5 tot 10 minute terwyl gereed omgedraai en met die sous bedruip word.
Of pas dit aan by jou omstandighede
Ek het 2 gaar steaks in die vrieskas gehad, wat ek opgesny het en toe in die sous gemarineer het. Die steaks was redelik underdone. Die het ek toe so bietjie in die pan gebraai in olyfolie, uitgehaal en die sous in die pan gegooi en laat “reduce”. Intussen die bak met hardgekookte eiers, tamaties, avo, ‘n bakkie guacamole en die steak repies gepak. Die sous oorgegiet en toe die gaar broccoli ook net bietjie in dieselfde pan gebraai en tussen die ander gepak. En……Steak en Broccoli slaai.
2de foto: Ek het dieselfde sous gebruik, maar koue gaar varkboud vleis in repe gesny en vir 20 minute op 220ºC in die oond gerooster, saam met die sous, nadat dit vir 2 ure gemarineer het, net om die sous gaar te kry. Toe laat afkoel en op die bord saam met tamatiestukkies, slaaiblare, en ‘n geel soetrissie in blokkies gesny, gerangskik en die sous deur dit gemeng. Dit is op kamer temperatuur ge-eet.
Bron en foto: Adam Cloete






