FILLET EN TONG MOSTERD ROL
TONG
1 heel beestong, vars of gepekel
1 groot ui op gesny
1 groot wortel, in ringe gesny
6 knoffel vingertjies plat gedruk
½ teelepel heel swart peperkorrels
6 heel naeltjies
2 takkies vars tiemie
2 – 3 lekker groot vars salie blare
2 eetlepels sout
Spoel die tong goed af onder koue water, sit in die stoompot en vul met water tot die tong net onder die water toe is, gooi al die ander bestanddele by. Bring tot kook punt, sodra pot begin stoom, draai plaat af en laat hy rustig stoom vir 30 min. Haal die pot van die plaat af, MAAR MOENIE OOPMAAK NIE. Laat hom net so staan tot die stoom heeltemal afgegaan het. Maak oop en sit tong op bord tot redelik afgekoel, trek die vel van die tong af en verwyder enige vet indien daar is, sit tong eenkant om heeltemal aftekoel. Sny die tonge se kante af dat dit n mooi vierkantige stuk vleis is.. Gebruik die wat jy afgesny het vir toebroodjies of om koud te eet.
FILLET
1 redelike groot fillet steak
Dijon mosterd
songedroogte tamaties
Sny die fillet op sy lengte tot amper deur (butterfly), maak hom oop op jou snyplank met die gesnyde kante na onder, sny nou die twee vet wange van die binne kant na buite , maar weer nie deur nie sodat dit weer butterfly, doen dit weerskante, nou het jy een groot lekker plat stuk fillet. Kap die fillet bietjie met ‘n vleis hammer of kant van ‘n piering. Smeer die fillet lekker met Dijon mosterd en pak die hele fillet met songedroogte tamaties uit, sit die tong op die een punt en rol toe in die fillet, tot die hele tong toe is . Neem tou en maak die fillet op ‘n paar plekke vas om alles in plek te hou. Rol nou die hele rol in growwe vars gemaalde swart peper en gooi sommer so paar lekker heel korrels ook tussen in. Sit in die yskas oornag dat die geure lekker kan trou.
BRAAI
Meng helfte balsamiek asyn en olyfolie. Maak seker jou vuur is nog warm genoeg vir lekker vlamme. Plaas die rol op die rooster en smeer lekker met die mengsel dat dit kan vlamme maak, draai en doen dieselfde met al 4 kante. Gooi sout oor, en braai verder oor matige kole ongeveer 25 – 30 min hang af hoe gaar julle hom wil he. Hou dop dat die dik kante waar die fillet oor mekaar is, langer op die kole bly. Mens kan mooi op die oop kante sien hoe ver is die vleis gaar, so as jy van ‘n bietjie “ rooi” hou, haal hom vroegtydig af. Sit op ‘n opdien bord, druk ‘n suurlemoen uit oor die hele rol en laat rus ongeveer 10 min voor jy die rol sny en bedien. Sny versigtig met ‘n gladde skerp mes.
MOSTERDSOUS
500 ml room
30 ml heel korrelmosterd
40 ml heuning
1 teelepel Dijon mosterd
3 teelepels mosterd poeier en ¼ teelepel borrie aangemaak met bietjie water
2 knoffel vingertjies of meer indien verkies, hou heel
1 teelepel maizina en 1 teelepel bisto aangemaak met bietjie water
sout na smaak
Verhit die room, mosterd (al twee), knoffel en heuning tot kookpunt, kook lekker vinnig vir ‘n rukkie. Gooi die aagemaakte mosterd en borrie by en kook lekker deur. Laat kook vir ‘n rukkie gooi die aangemaakte maizina mengsel by en roer vinnig dat dit ‘n lekker gladde mengsel is. Dit sal nou lekker dik wees, pasop vir aanbrand. Haal die knoffel uit en proe vir sout. Gooi sout na smaak.
Bedien warm saam met die gesnyde rol.
Nota: Hierdie rol is die volgende dag eers lekker as koue vleis.
Lekker eet , hoop julle geniet dit baie.
FOTO EN RESEP: Rina Kleinhans








