

GROOTMAAT SAGO POEDING
12 – 18 porsies
2 liter melk nodig vir die hele resep
375 ml sago
2 kaneelstokke
750 ml melk
Meng sago, kaneel en 750 ml melk in ‘n groot pot saam en maak solank baie stadig warm. Roer kort kort.
750 ml melk
80 g botter (bietjie meer as 2/3 koppie)
160 ml suiker (2/3 koppie)
Bring hierdie 750 ml melk, botter en suiker tot amper kookpunt in mikrogolf. Oppas vir oorkook.
Meng by sago in pot en kook mengsel tot sag en deurskynend. Deur die melk te mikrogolf help dit dat die sago gouer begin kook.
6 groot eiers, geskei
500 ml melk
5 ml vanilje geursel
5 ml sout
Klits eierwitte styf en hou eenkant.
Klits eiergele, 500 ml melk, vanilje en sout saam in ‘n groot bak.
Haal pot van stoof af.
Skep met ‘n soplepel bietjie vir bietjie van die warm sago by eiergeel en melk mengsel terwyl jy klits. (Moenie te veel op ‘n slag ingooi nie en ook nie die eiergeel by die sago nie, want dan word dit roereier. Raai hoe weet ek?)
Roer styfgeklopte eierwit by.
Verdeel in 2 bakke van ± 4 liter elk. (Ek het dit nog nie alles saam in een bak gaar gemaak nie.)
Smelt ‘n ¼ koppie appelkooskonfyt in die mikrogolf en gooi oor poeding.
Bak in waterbad by 180°C vir 45 min. Dit rys baie hoog terwyl dit bak.
Sit net die oond af as die tyd om is en MOENIE die oond oopmaak vir minstens ‘n uur nie. Die poeding is nog nie heel gaar nie, dit word gaar met die staan in die oond. As mens dit bak tot dit gaar en gestol is word dit droog.
Foto: Amanda Scholtz Mostert
Resep geplaas deur Amanda Scholtz Mostert
PS Waterbad = bak poeding binne ‘n bak met water. Sit bak met poeding in ‘n oondpan en sit dit eers in die oond dan gooi jy warm water in die oondpan.






