
ALAGAARTJIE POT – CHOLESTROLBOMPOT
(vir 6 mense)
VLEIS
1 groot beesstert
1 groot heel beestong
½ kg skaapstertjies
6 skaaptongetjies
400 g soutbeesvleis, opgesny in 5 cm-stukkies
1 kg skaapskenkels
1 pakkie ontbytspek, gesnipper
½ glas droë rooiwyn
GROENTE
4 groot uie, gekap
500 g klein uitjies
½ bossie klein worteltjies, heel
2 selderystingels, gekap
300 g wit sampioene
2 groot bakhande vol jong groenbone, met die stingels afgesny
20 klein, vars heel aartappeltjies
pietersielie, fyngekap
SPESERYE
gemaalde swartpeper
10 heel naeltjies
2 lourierblare
1 kaneelstokkie
‘n paar wonderpeperkorrels
4 knoffelhuisies
1 klein jalepeño-rissie, ontpit en opgekap
½ pakkie bruinuiesoppoeier
2 teelepels gemengde kruie
Sit die beesstert en spek saam met ’n halwe koppie olyfolie in ’n koue potjie. Voeg al die speserye by (maar nie die soppoeier nie). Sit nou die potjie bo-op sy kole.
Braai dit vir sowat 30 minute en sit dan die beestong en skaaptongetjies bo-op die beesstert en spek.
Gooi ’n bietjie warm water en ’n halwe glas droë rooiwyn by. Sit die deksel op en kook dit taamlik vinnig vir sowat 80 minute. Gooi nog water by indien nodig. Pasop vir te veel sout; die soutvleis is klaar soutig.
Pak die soutvleisstukke saam met die skaapstertjies en -skenkels boop. Sorg dat daar genoeg water op die vleis is.
Pak die groente in lae bo-op:
Begin met die uie, dan die wortels en seldery. Pak die sampioene teen die rand, gooi die groenbone in die middel en druk die heel klein uitjies tussen die bone. Pak die aartappeltjies bo-op en en gooi ’n bietjie pietersielie oor. Kyk mooi waar die beestong in die pot lê; jy moet dit later uithaal.
Sit die deksel op en kook dit vir minstens ’n uur en ’n half.
Lig die tong met ’n lang vurk uit, sonder om die potjie deurmekaar te krap. Ontvel die tong en sny dit in skywe. Probeer die skywe instoot waar jy die tong uitgehaal het, sonder om dinge deurmekaar te krap.
Strooi die soppoeier oor en laat dit vir ’n halfuur lank stadig prut.
Maak intussen kluitjies aan. Skep lepels vol bo-op en laat ’n halfuur lank prut. Maak seker daar is genoeg sous vir die kluitjies.
https://www.foodloversrecipes.com/2018/04/kruie-kluitjies-dumplings/
Resep geplaas deur: Hendrina Barkhuizen Kruger






