

CALAMARI IN KRUMMELKORS
Ontdooi die skywe calamari oornag in die yskas in plastiek sakkie op ‘n bord of by kamer temperatuur vir 2 tot 3 ure. Spoel af en maak droog met kombuis papier.
Vir hierdie hoeveelhede het ek 4 calamari skywe gehad.
Berei 3 bakke met die volgende bestanddele in volgorde van gebruik:
1 koppie Koekmeel gemeng met 1 eetlepel Suurlemoen en Peper speserye of van jou keuse.
1 eier gemeng met 2 eetlepels ongegeurde jogurt en 3 eetlepels suurlemoensap.
1 koppie fyn droë broodkrummels (ek koop sommer by die bakkery afdeling en hou in my vrieskas).
Druk nou elke skyf calamari in die meel gevolg met eier mengsel en dan die krummels en sit op ‘n droë bord. Sit in die yskas vir ten minste halfuur voordat dit in medium hitte sonneblom olie gepanbraai word. Calamari word baie gou gaar so net 2 minute per kant behoort lank genoeg te wees.
Nota: as jy genoeg tyd het kan jy die ontdooide calamari vir 12 ure in genoeg karringmelk laat marineer, dit sal nog sagter wees.
Bedien met enige bykos van jou keuse. Ek het met ‘n pittige rys en romerige suurlemoen botter en kappertjiesaad sous bedien.
KAPPERTJIESAAD SOUS
50 ml melk
5 ml mielieblom
15 ml botter
15 ml suurlemoensap
1 teelepel gebottelde Klein kappertjiesaadjies gedreineer
Roer die mielieblom in die melk in klein bekertjie tot glad en maak warm in mikrogolf tot begin verdik. Roer die botter by terwyl warm en voeg die suurlemoensap en kappertjiesaad by. Maak net weer effens warm voor opdiening.
Resep geplaas deur Elsabie Templeton
Foto: Elsabie Templeton






