

ELSABIE SE WILDSPASTEITJIES MET SPINASIE KAPOKAARTAPPELS
Resepte en foto”s: Elsabie Templeton
FOOD LOVERS RECIPES
Wildsvleis pasteitjies op my manier gemaak met warm Arabiese kruie mengsel, rooiwyn en ‘n lekker groot skep van my tuisgemaakte rooiuie marmelade met pienk peperkorrels. Bedien langs ryk en romige aartappels met spinasie blare. Ek dink dit sal op enige gastro pub se menu pas……… selfs my deeg is tuisgemaak.
Kookwater-pastei deeg (uit Snowflake boek)
Bros deeg wat perfek werk vir die onderkant van pasteitjies omdat dit ordentlik deur bak sonder om taai te wees. Ek vind dit die beste deeg vir wildspasteitjies wat ek sommer in my medium grootte muffin panne maak.
125 ml kookwater
125 g botter of margarine (ek gebruik botter dit smaak ook lekkerder)
500 ml (280 g) bruismeel (of koekmeel + 2t bakpoeier)
2 ml sout
Smelt die botter of margarine in die kookwater. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en meng die kookwater mengsel by tot ‘n sagte deeg vorm. Ek gebruik my deeghak in my menger.
Gooi in ‘n plastiek sakkie en sit in die yskas vir ten minste ‘n uur of tot yskoud. {*op hiedie stadium kan jy dit ook vries vir latere gebruik}.
Op ‘n meelbestrooide oppervlak, druk die deeg plat en rol uit tot 3mm dik. Sny vorms soos verlang, voer pannetjies of oondbak uit met die deeg. Sny dekseltjies vir die bo-kante, maak ‘n gaatjie in sodat die stoom kan ontsnap. Sit die koue vleis vulsel in en maak toe met die dekseltjie. Smeer die kante nat met bietjie water op jou vinger, knyp die deeg toe en verf met geklitste eier of melk met bietjie suiker in.
OF
Maak dit soos ‘n wasgoedbondeltjie met die koue vleis vulsel binnekant en bak in gesmeerde muffin pannetjies soos onder.
Bak by voorverhitte oond by 200C vir vanaf 20min tot 40min afhangende van hoe groot die pasteie is. Hulle moet mooi goudbruin bo-op wees.
Resep vir die vulsels:
https://www.foodloversrecipes.com/2017/05/gestoofde-wildsvleis-vir-pasteie/
****
Rooiuie en pienk peperkorrel marmalade {ET}
1 kg rooi uie, in helfte gesny en dan in halwe ringetjies
200 g marmelade (ek het ‘n bottel lemoen & rooibostee marmelade in die yskas gehad)
300 ml rooiwyn (as dit nie goed genoeg is om te drink nie is dit nie goed genoeg vir die kos nie)
100ml rooiwyn asyn (ek het net druiwe asyn gehad en dit werk)
3 teelepels heel korrel mosterd (of net die korreltjies soos ek gebruik)
30 ml bruinsuiker
½ koppie sultanas of bosbessies (cranberries), opsioneel
25 ml olyf olie vir braai.
Jy kan enigiets soos lekker groot knippie gedroogde rissie vlokkies (of vars) peperkorrels ens bysit na smaak.
Braai die uie in die olyf olie tot deurskynend, voeg die sultanas, cranberries, peperkorrels, suiker, rissies, mosterd by en prut stadig totdat die suiker opgelos het (so 10min). Voeg die wyn- en asynmengsel by en prut totdat die uie sag en die sultanas/cranberries uitgeswel is. Skep alles uit met ‘n gaatjie lepel en los die vloeistof in die pot. Voeg die marmelade by en prut totdat die sous lekker dik is. Laat afkoel en skep die rooi uie mengsel terug in die pot. Meng goed en skep in gesteriliseerde glas bottels en seël.
Plaas in die yskas en probeer om nie oop te maak vir ten minste ‘n week sodat die geure en smake goed kan kombineer.
Heerlik saam met rooi vleis en veral op toebroodjies met pastrami en ham, lekker skerp kaas en roket. Genoeg vir so 2 x ½ liter botteltjies.
Fluffy sexy mash:
So vernoem deur my vriende en familie omdat die hoeveelheid room en botter die sexy kurwes in plek hou! Gebruik ‘n melerige aartappel soos Valor, Sifra of Up-to-date, kook in so min as moontlik water tot gaar. Hierdie variteit sal begin uitmekaar breek as dit gaar is en dis reg so. Kook heeltemal droog en sit vars room en genoeg botter by om dit lekker klam te maak en sout na smaak, druk fyn. Jy kan selfs ‘n balon whisk gebruik om dit op te klop tot dit fluffy is. ‘n Knippie neutmuskaat ook lekker. As jy dit saam met vark bedien sit ‘n groot teelepel korrelmosterd by en as jy dit met vis bedien is, ‘n bietjie wasabi heerlik daarby.
Met ‘n hoender gereg roer ek bietjie horseradish in. Vir die vark tjoppies, braai in pan in min olie tot net gaar. Vir ‘n bykos maak ek gekarameliseerde uie deur uie te braai en bietjie bruinsuiker by te gooi. Roer braai tot dit begin verbruin en taai word. Voeg ‘n blikkie tertappels by en braai tot dit warm is. Bedien op die vark tjops. Geniet!
By die mash op die foto het ek eenvoudig die baba spinasie blare vinnig gaargemaak en toe by die klaargemaakte mash ingevou.

Weereens perfekte deeg vir pasteitjies. Dis die kookwater degie in die resep. Hierdie deeg was van groot hoeveelheid wat ek aangemaak en in sakkies gevries het vir latere gebruik.






