

ADAM SE EENMAN HOENDERPASTEI
Genoeg vir een of twee persone
Vir die kors het ek die deeg in hierdie resep gebruik. https://www.foodloversrecipes.com/…/boerewors-en-chickpea-qu… Alhoewel dit eintlik ‘n quiche kors is, is dit uitstekend geskik vir pasteie.
1 hoenderkwart (dytjie en boudjie)
1 medium grootte gekapte ui
2 fyngekapte knoffeltoontjies
1 teelepel Italiaanse speserye
1 teelepel gerookte paprika
1 hoender ekstrak blokkie
125 g gekapte sampioene
peper na smaak
1 eetlepel maizena
Braai die hoender, uie en knoffel in ‘n klein bietjie olie in die stoompot tot die vleis verbruin. Voeg al die speserye by, saam met ‘n koppie kookwater waarin die hoenderblokkie opgelos is. Moet nie sout bysit nie, aangesien die hoenderblokkie sout genoeg is. Stoom vir 20 minute, verwyder die hoender met ‘n dreineringslepel en laat afkoel. Hou die sous eenkant.
Braai die sampioene effens en hou eenkant. Ontbeen die hoender en sny of breek in klein stukkies. Meng die sampioene daarmee en voeg dit by die sous. Indien die sous bietjie te min is, kan ‘n klein bietjie water bygevoeg word. Laat die mengsel liggies prut en meng die maizena, opgelos in ‘n bietjie water daarby in. Roer tot die sous verdik het.
Rol die deeg uit in ‘n bodem en deksel en voer ‘n 20cm tertbord, wat met ‘n nie kleef middle gespuit is, met die bodem gedeelte uit. Vul dit met die hoendermengsel, plaas die deksel gedeelte op en verseël die kante. Bak in ‘n vooraf verhitte oond vir 20 minute by 200ºC.
Bron en foto: Adam Cloete






