
HEERLIKE MANGO ROOMYS
’n Verfrissende nagereg wat perfek is om enige somer-maaltyd mee af te sluit.
Voorbereidingstyd: 20 minute, plus ten minste 6 uur om te vries.
Lewer: 2 liter of 10 – 12 porsies
3 medium grootte mango’s, geskil en die pit verwyder
250 ml suiker
2 eiers, geskei
250 ml room
Kombineer die mango’s en 1/3 van die suiker tot dit ’n gladde mengsel is – ’n voedselverwerker is jou beste vriend hiervoor.
Klop die eiergele en 1/3 van die suiker tot dit ’n dik, vaal geel mengsel is.
Klop die eierwitte styf en klop dan gelydelik die laaste 1/3 suiker by tot dit ’n stywe meringue is.
Klop die room styf en roer dan al die bestanddele versigtig saam tot dit goed vermeng is. Gooi dit in ’n houer met ’n deksel wat geskik is vir die vrieskas.
Vries die roomys vir ten minste ses uur, verkieslik oornag.
Resep: Carolie de Koster






