

PIEKELBEESBORS
Beesbors, of soos ons dit ook noem ‘brisket’, is seker een van die onbekendste en onderskatte snitte aan die beeskarkas. En as jy dit op hierdie manier voorberei, seker een van die smaaklikste snitte. Die snit is ook aansienlik goedkoper as die ander duur snitte soos beeshaas, lende of kruisstuk.
Die beesbors word ontbeen. By ‘n volwasse dier sal die beesbors baie vet aanhe, waarvan heelwat weggesny kan word, maar los bietjie aan.
Nou pekel ek die beesbors vir ongeveer 3 dae in ‘n koel plek met ‘n mengsel van ‘n jemblik growwe sout en ‘n eetlepel salpeter. Die salpetermengsel is maar net die hoeveelhede in die regte verhouding.
Ek maak die beesbors effens klam met water en
smeer dit dan weerskante in met die mengsel en laat le dit in ‘n emmer of kom. Ek draai dit daagliks om. Die salpeter
behou ook die rooi kleur van die vleis.
Spoel die vleis af met skoon water, en dit kan in die oond of in ‘n swartpot op oop vuur met min water gaargemaak word. |
Die geheim is dat die gaarmaakproses stadig en met lae hitte moet geskied.
Intussen kan uie en aartappels skoongemaak word en later bygevoeg word om gaar te kook in die bruin vleissous.
Die vleis is so geurig dat ek min speserye byvoeg, gewoonlik net peper.
Onthou om nie verder sout by te gooi nie.
Sny die beesbors in skywe en bedien met tuisgemaakte mostertsous, saam met die aartappels en uie en ander bykosse soos verkies.
FOTO: Johan Coetzee (FLR Lid)






