PETRE SE BOERBROOD-BESKUIT
Die resep lewer ongeveer 3 groot brode.
Aartappelsuurdeeg:
500 ml water
1 medium aartappel, gewas
½ teelepel suiker
knippie sout
Sny die aartappel met skil en al in plat skywe, voeg die aartappel, suiker en sout met die water in ‘n kastrol (+- 2 liter kastrol). Bring tot kookpunt op ‘n stoofplaat. Laat dit afkoel vir 10 minute tot louwarm. Strooi 5 medium handgrootte bruin broodmeel bo-op die water. Maak ‘n gaatjie in die middel, plaas die deksel op die kastrol en plaas die kastrol binne in ‘n plastieksak en vou dit toe met komberse.Laat die suurdeeg ongeveer 16 ure staan. Wanneer die suurdeeg borrel en skuim, roer dit goed deur met ‘n vurk. Voeg 1 handvol broodmeel by en ongeveer ‘n ½ koppie louwarm water en roer goed deur. Strooi bietjie droë meel liggies bo-oor. Plaas die kastrol se deksel op en plaas die kastrol in ‘n skottel met sterk louwarm water om die kastrol warm te hou sodat die suurdeeg kan rys. Dit neem ongeveer 1 uur om die kastrol vol te rys.
Brood:
2,5 kg broodmeel
1 koppie gesmelte skaapvet
1 teelepel sout
ekstra louwarm water
Verwyder die aartappel uit die suurdeeg.
Voeg die broodmeel, vet en sout in ‘n knieskottel en voeg die suurdeeg by (kan fyn kaiings byvoeg) en knie tot die deeg nie meer aan die hande vassit nie. Indien die deeg te styf is, voeg bietjie louwarm water by.
Verdeel die deeg in 3, plaas die deeg in gesmeerde broodpanne en druk dit effens plat. Bedek die panne met kleefplastiek en plaas die panne op ‘n warm plek vir deeg om te rys tot die panne vol is.
Bak die brood in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir ongeveer 45 – 60.
Die brode kan opgebreek word in stukke en uitgedroog word in ‘n louwarm oond vir beskuit.
Resep en foto: Petré Van Jaarsveld
2 thoughts on “PETRE SE BOERBROOD-BESKUIT”
Leave a comment
You must be logged in to post a comment.









Geskuif, nuwe naam – SOETSUURDEEGBROOD MET AARTAPPEL
Lorett Brittnell Ek bak hierdie brood ook nog gereeld. Helfte breek ek in stukke en droog vir ‘n ou swart soet koffetjie en die res sny ek so vars in snye en vries. So maak ek seker ek eet die laaste krummel op. Geen ander brood kom by hierdie 1
Petré Van Jaarsveld
Lorett … Dit wat oorbly maak ek krummels … gebruik dit weer vir snitzels, uieringe ens ….