POTJIE LEKKERTE – LAMSBOUD GESTOP MET SPEK
1,5 kg supergraad lamsboud
250 g swoerdlose streepspek of rugspek
4 – 5 huisies knoffel, fyngemaak
15 ml Ina Paarman gegeurde sout
vars gemaalde swart peper
4 ml speserye vir Tjops & Biefstuk
Sous:
15 ml Mielieblom (Maizena)
2 ml souspoeier (Bisto)
15 ml droë Sherry
30 ml room
tinfoelie
Steek met ‘n skerppuntmes diep snye oral in die boud en stop met stukkies spek. Vryf die knoffel oor die boud en vryf dan die gegeurde sout, peper en speserye in.
Draai die boud deeglik in tinfoelie toe en plaas in potjie oor medium kole. Plaas ook ‘n paar kole bo-op die deksel. Maak die boud stadig gaar vir omtrent 3 ure terwyl die kole gereeld aangevul word om die hitte eweredig te hou.
Verwyder die boud uit die potjie en maak die tinfoelie oop. Skep die sous uit die potjie en hou dit eenkant. Plaas die boud terug in die potjie en braai die boud bruin aan weerskante oor warm kole. Verwyder die boud en hou warm.
Om die sous te maak: Skep die vet van die sous af wat eenkant gehou is. Gebruik 150 ml van die sous en plaas in die potjie asook 150 ml water. Proe of nog sout nodig is. Bring sous tot kookpunt oor warm kole. Meng die mielieblom met ‘n bietjie van die orige sous en verdik die sous in die potjie. Voeg ook die souspoeier, Sherry en room by.
Sny die boud in skywe en plaas op ‘n dienbord. Bedruip die boud met van die sous en bedien die res van die sous apart.
Bron en foto: Louise Groenewald








