GEBAKTE SUURLEMOEN POEDING
Terwyl dit bak verdeel hierdie poeding in ‘n sponslaag oor ‘n basis van smaaklike suurlemoenvulsel.
Lewer 4-6 porsies
125 g witsuiker
50 ml botter
15 ml kokende water
50 g koekmeel
Sap en gerasperde skil van een groot suurlemoen
2 groot eiers geskei
225 ml melk
Klop die suiker en botter tot romerig en klop dan die kokende water in. Roer die koekmeel, suurlemoensap & skil by. Klits die eiergele en melk saam en voeg dit bietjies-bietjies by die geroomde mengsel. Klop na elke byvoeging deeglik. Klits die eierwitte styf en vou by die meelmengsel in. Giet die mengsel in ‘n gesmeerde oondbak en plaas in ‘n oondpan half vol met water (ek bak myne sonder die oondpan met water). Bak 45min lank by 170°C. Sit warm voor of laat effens afkoel en bedien met dun room.
Nota: Ek sal in die vervolg hierdie resep verdubbel en in dieselfde oondbak gooi.
FOTO – Elsabie Templeton








