
BRONKORS – WATERCRESS, HEERLIKE VARS KRUIE VIR SLAAIE
Die botaniese naam vir bronkors is Nasturtium officinale en oorspronklik kom dit van Europa en Asië, en is een van die oudste eetbare kruie waarvan ons weet. Bronkors is in die familie Brassicaceae en die genus is Nasturtium. Dit is ook verwant aan die mosterd en radyse en hulle is almal bekend vir die peperige pikante smaak.
Bronkors is ‘n vinnig groeiende plant. Die waterige stingeltjies is baie lig en die blaartjies is ook veeragtig saamgestel. Die plant dra klein wit en groen blommetjies aan trossies. Bronkors stingeltjies breek maklik af as daar hard aan hul gevat word en selfs die blaartjies kneus maklik.
Alhoewel bronkors se botaniese naam “nasturtium” is, is hulle nie naby verwant aan ons bekende blomme, nasturtium, nie. Bronkors kan in groot oppervlaktes en groot beddings geplant word asook op klein skaal en in potte saam met u ander kruieplante. Bronkors groei die beste in alkaliese grond en kom voor waar daar baie kalk in die water is. Die blare van die plante kan nie gedroog word en so versprei word nie, dit moet vars gepluk en vars versprei word. Dit kan ook nie lank vars gehou word nie en is geneig om ‘n bitter smaak te ontwikkel indien dit te lank in die yskas gestoor word. Dit word gewoonlik in groentewinkels of markte in verseëlde plastieksakkies verkoop. Bronkors word ook as spruitjies (uitloopsels of botseltjies) verkoop wat ge-oes net ‘n paar dae nadat die plante uitgeloop het. Bronkors word groei tussen 50 en 120 cm hoog. Dit is ‘n redelike digte plant. Die loof en stingeltjies van hierdie plante kry gou ‘n bitter smaak nadat dit begin blom het. Dit moet dus redelik vinnig ge-oes en versprei word.
Bronkors bevat baie yster, kalsium, Vitamine A en C en is heerlik in ons vars slaaie asook gestrooi oor gaar geregte vir versiering. Dit is ook baie goed om die spysvertering te help en bevat ook anti-oksidante. Dit is eenvoudig ‘n heerlike vars pikante krui in slaaie veral saam met vars koljander en roketblare en ook baba spinasieblare. U kan heerlik smul daaraan.






