PIESANGKOEK MET RUMSTROOP
Genoeg vir: 8
250 g botter
250 g bruinsuiker
3 groot eiers
3 ryp piesangs, geskil en fyngedruk
5 ml vanieljegeursel
250 g bruismeel
klapperskaafsels, vir versiering
geklitste room of vanieljeroomys, om voor te sit
Stroop
30 ml botter
100 ml bruinsuiker
100 ml ligte rum
Klits die botter en suiker saam tot dit lig en donsig is. Voeg die eiers by en klits dit weer goed. Voeg die piesang, vanieljegeursel en ’n knypie sout by. Klits dit vir ’n paar sekondes tot dit ingemeng is.
Vou die bruismeel daarby in en skep die beslag in ’n gesmeerde ringkoekpan. Bak dit vir omtrent 35 minute in die verhitte oond. Jy sal dalk die koek met ’n stuk foelie moet bedek indien dit te vinnig bruin word. Die koek is gaar as ’n toetspen skoon uitkom.
Haal die koek uit die oond en sit dit eenkant om heeltemal af te koel voordat jy dit uitkeer op ’n opdienbord.
Stroop
Verhit die botter, suiker en rum in ’n kastrol. Roer dit tot die suiker opgelos het en laat dit dan vir vyf minute prut. Haal die kastrol van die plaat af en skep die stroop oor die koek. Sprinkel klapperskaafsels bo-oor en sit die koek warm of teen kamertemperatuur voor met ’n skep geklitste room of vanieljeroomys.
2de Foto en resep geplaas deur Alberta van Wyk
Foto: Amanda Conradie:
Was lus vir ietsie soet vanmiddag. Kan dié koek defnitief aanbeveel! Veerlig en heerlik!
Het individuele porsies gemaak, maar sal volgende keer die heel koek bak.
Ek sal ook ekstra sous aanmaak en apart saam met die koek bedien.









