

KITSPOEDINGTERT
Ek het vanoggend hierdie vinnig tert gemaak maar hy kan ook as ‘n nagereg bedien word, regtig heerlik en mens kan dit aanpas net soos jy daarvan hou. My man hou nie van ‘n soet tert nie, so die een was so in sy kraal.. Makliker as dit kry mens seker nie.
1 pak Moir’s melktert-geur kitspoeding (of geur van jou keuse)
250 ml room, oornag in yskas
150 ml melk, koud
10 ml gelatien
Tennisbeskuitjies
sjokolade om oor te rasper, of vars vrugte
Maak die gelatien aan met 50 ml koue water, sit 20 sek in die mikrogolf. Roer goed tot dit bietjie afkoel.
Meng die poeding met die room en melk, klits goed, voeg die gelatien by en meng lekker deur. Pak die tennisbeskuitjies onder in die bak, giet die vulsel oor die koekies, (versigtig dat dit nie skuif nie) rasper nog koekies en sjokolade lekker dik bo-op en plaas in die yskas vir ongeveer 2 ure.
1 pak poeding maak ‘n klein tertjie, so ek stel voor verdubbel die resep vir ‘n groter tert.
Resep en foto: Rina Kleinhans






