

MERINGUE
My meringue resep. Is altyd ‘n sukses.
1 eierwit van ‘n X-Groot eier
250 ml (210 g) strooisuiker
30 ml kookwater
15 ml asyn
2 ml bakpoeier
Voorverhit die oond tot 100°C.
Voer 2 bakplate met aluminium foelie uit, die blink kant bo.
Gooi die eierwit, strooisuiker, kookwater en asyn in ‘n mengbak en klits dit vinnig totdat die meringue stywe puntjies vorm as jy die klitser uitlig.
Vou die bakpoeier liggies in die meringue in.
Skep teelepelsvol meringue op die aluminium foelie of spuit sirkels daarop met behulp van ‘n versierbuis en -sak; die deursnee moet naastenby 4 cm in deursnee wees.
Bak die meringue 1 uur.
Skakel die oond af en haal hulle uit wanneer die oond byna koud is. (Ek haal hulle dadelik uit, omdat ek so baie op ‘n slag bak. Geen probleme sover gehad met meringues wat sag is in die middel nie)
Bewaar hulle in ‘n lugdigte houer.
Tips:
Ek strooi sommer sjokolade vermicilli oor of 100’s & 1000’s vir versiering.
Ek roer ook sommer 3 eetlepels van my gunsteling koffie poeier in sodra dit styf geklits is. En strooi dan sjokolade vermicilli oor. Almal is mal daaroor. Dan maak ek kleintjies en sit dit met gesmelte sjokolade aan mekaar vas.
Indien jy te veel eierwitte het nadat jy te veel van die vanilla koekies gebak het – kan jy die eierwitte een een of twee op ‘n slag in ‘n sakkie gooi en dan in die vrieskas gooi vir latere gebruik. Meringues hou vir omtrent 3 weke baie goed.
Geniet dit.
BRON – Esmarie Friedrichs
Foto: Marie Grobler






