MACARONI EN MAALVLEIS
Dollie ‘n eenvoudige macaroni en maalvleis gereg op met baie gebraaide uieringe. Ek gee maar die hele proses soos ek dit gemaak het – al ken julle dit almal.
Ek het vanaand macaroni gekook – nie tot pap nie. Met sout in die water en gedreineer.
Apart daarvan het ek 5 groot uie in ringe gesny, met bietjie selfraising meel gemeng, dit eers in bietjie olie gebraai en eenkant gesit.
Al die olie uitgegooi en die bruin meel-krummels wat onder in die pot is, gebruik om die maalvleis in gaar te maak. Ek het by die maalvleis ‘n hele tamatie ingesny en saam gaar gemaak. Ek braai nie my maalvleis nie, ek gooi sommer net heelwat paprika in en kook dit deur – dit gee vir die vleis ‘n lekker bruin/donker kleur.
Geur die vleis na smaak. Ek het bietjie swart peper en aromat ingesit en ‘n klein bietjie tamatie soppoeier daarin gemeng..
Ek sit toe ‘n laag macaroni onderin ‘n langwerpige glasbak.
Toe die maalvleis.
En hier kom die lekkerste deel: Sit nou die uieringe bo-op die vleis.
En dan weer ‘n laag macaroni.
Genoeg cheddarkaas bo-oor en “grill” dit ‘n bietjie in die oond. Pasop dat dit nie skroei nie.
Laat rus die gereg vir 10 – 20 min in ‘n lou-warm oond.
Daardie uieringe doen maar net die ding hoor. Die geur daarvan trek so lekker in die gereg in.
BRON – Anne Snyman








