GEVLEGTE WORSBROOD EN ONTBYT MUFFINS
Ontbyt met ‘n twist.
Gevlegde brood:
3 koppies koekmeel
3 koppies witbroodmeel
1 eetlepel droë pietersielie
1 teelepel sout
1 pakkie droë kitsgis
550 – 600 ml louwarm water
Sif die koekmeel en broodmeel saam en meng goed.
Meng die res van die bestanddele by die meelmengsel en knie goed tot die deeg terug bons wanneer jy daarop druk. Plaas die deeg in die skottel, bedek en laat dit rys op ‘n warm plek tot dubbel die volume.
Knie die deeg af en deel dit in 3 ewe groot stukke deeg.
Maak elke deel deeg plat, plaas gaar braaiwors op die plat deeg en rol die deeg toe om die wors. Vleg die 3 stukke deeg met die wors soos ‘n gevlegde brood en plaas op ‘n bakplaat, plaas eenkant en laat die gevlegde brood rys.
Bak die brood in ‘n voorverhitte oond teen 180ºC vir ongeveer 1 uur.
Gevulde tamaties:
1 koppie fyn aspersies
¼ koppie mayonnaise
2 eetlepels fyn gekapte uie
tamaties, ontpit en uitgehol
Meng die 1ste 3 bestanddele saam in ‘n mengbak, skep die vulsel in die uitgeholde tamaties en plaas eenkant.
Gebraaide swart sampioene:
Braai die groot heel sampioene in knoffelbotter in ‘n warm pan op die stoof tot gaar.
Strooi gerasperde kaas en rooipeper na smaak oor die sampioene, laat die kaas smelt, verwyder die sampioene van die hitte en plaas eenkant.
Ontbyt muffins
Mengsel 1:
125 g gekerfde dadels
200 ml water
½ teelepel koeksoda
⅓ koppie rosyntjies
⅓ koppie sitrus skille (pomelo skilletjies soos vir konfyt opgekook)
⅓ koppies tuisgemaakte marmelade
Plaas die bestanddele in ‘n kastrol op die stoof en kook dit saam vir 5 min. Plaas eenkant om af te koel.
Mengsel 2:
1 eetlepel fyn semels
¼ koppie sonneblomsaad, effens gekap
¼ teelepel sout
1 koppie bruismeel
1 groot eier
¼ koppie suiker
1 koppie fyn gerasperde wortel
Klits die suiker en eier saam in ‘n mengbak, voeg die res van bestanddele met die dadelmengsel by die eiermengsel en meng goed deur. Skep die deeg in voorbereide muffinpannetjies.
Bak die muffins in ‘n voorverhitte oond teen 180ºC vir 25 minute.
Maak intussen die stroop vir die muffins:
½ koppie kookwater
2 Rooibostee sakkies
1 eetlepel suurlemoensap
¼ koppie suiker
Voeg die water, teesakkies en suurlemoensaop in ‘n potjie op die stoof en laat die tee sterk trek voordat jy die suiker byvoeg. Bring die tee tot kookpunt en verwyder die potjie van die plaat.
Skep 2 eetlepels stroop oor elke muffin wanneer dit uit die oond kom.
Resepte: Meisie Hattingh
One thought on “GEVLEGTE WORSBROOD EN ONTBYT MUFFINS”
Leave a comment
You must be logged in to post a comment.









Done