VLEIS-GEVULDE EIERVRUG (MELITZANES PAPOUTSAKIA)
Adrian Olivier se Bringal inskrywing. Hy het Griekse Papoutsakia gemaak.
3 – 4 eiervrugte
500 g maalvleis
3 sprietuie
1 medium grootte gerasperde ui
½ koppie gekapte pietersielie
2 koppies vars gekapte of geblikte tamaties
sout en peper na smaak
½ koppie olie
1 eier
3 eetlepels dik room
1 ½ koppie dik Bechamelsous
2 lig geklopte eiergele
1 koppie gerasperde kaas
2 tamaties in dun skywe gesny
Halveer die eiervrugte in die lengte, strooi met sout en laat dit vir 1 uur onderstebo in ‘n dreineringsbak. Spoel af met koue water en druk die oortollige water versigtig uit die helftes. Braai die eiervrugte in olyfolie oor medium hitte tot dit goudbruin is. Rangskik hulle teen mekaar in ‘n oondbak met die skilkante onder en hou eenkant. Braai die uie in olie tot deurskynend, voeg die vleis by en braai liggies vir ongeveer 10 minute tot die vleis verkleur het. Voeg die tamaties, pietersielie en geursel by en roerbraai alles saam oor hoë hitte vir ‘n kort rukkie. Bedek en prut verder tot die sous baie dik is. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Klop die 1 eier en room liggies en meng in die vleismengsel in. Druk die vlees van die eiervrugte liggies in met die agterkant van ‘n lepel om plek te maak vir die vulsel. Skep 2 – 3 eetlepels vleismengsel in die eiervrug helftes en versprei dit eweredig. Berei die Bechamel sous voor en roer die 2 eiergele asook helfte van die kaas daarin. Skep ‘n klein hoeveelheid Bechamelsous bo-oor die vleis, plaas ‘n skyfie tamatie op elk en strooi die orige kaas oor almal. Bak by 180ºC vir ongeveer 1 uur tot die bolaag goudbruin is. Bedien warm
FOTO- ADRIAN OLIVIER