PIENK GEMMER
Daar is 2 metodes, selfde resep.
As jy dit al gister wou hê, was die gemmer skoon, gaan deur die soutproses, soos hier onder beskryf. Kerf die gemmer – wat die engelse noem TRANSLUCENT, dis nie deurskynend nie, maar dun genoeg om lig deur te laat. KAPISH, DUUUUUUUUN.
As jy soos die meeste Afrikaners met voorbereiding grootword, was die gemmer skoon, gaan deur die soutproses en piekel dit heel. Dit MOET vir 4 weke staan. Kerf die gemmer op, soos jy dit benodig.
Opgekerf, is gouer maar raak flouer soos al die gesnyde oppervlaktes oksideer.
Heel ingelê, neem 4 weke, maar die gemmer hou sy byt vir 6 maande.
Notas:
Die gemmer moet mollig wees, as dit lyk soos oom Gert se twaksakbek, hou verby.
Julle kan meerder of minder maak sonder skaam, verdubbel, vertrippel, verhalf.
Op die platteland kan rysasyn problematies word, gebruik dan druiweasyn – NIE malt, appelasyn of “spirit” asyn nie.
Hoe meer beet jy gebruik, hoe gouer, maar ook hoe donkerder kleur die gemmer. Speel rond, as die gemmer die kleur bereik wat jy verkies, verwyder en eet die beet.
Plaas die beet bo-in, sodat indien jy dit wil verwyder, dan is dit maklik.
Jy kan ook rooi pruimpuree gebruik om dit te kleur.
Die resep:
115 g vars gemmer
2 – 3 teelepels (15 g) sout
100 ml rysasyn
50 ml water
15 ml suiker
vars beet, gewas en skywe gesny
Was die gemmer en sny alle pokmerke weg, vryf die sout in die gemmer in en plaas in ‘n bak, bedek en bêre vir 2 dae.
Dreineer en plaas die gemmer en die beet in die houer wat jy verkies, en ook die soort (skyfies of heel).
Voeg die res van die bestanddele in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Giet die warm sous oor die gemmer en beet.
Dun skyfies gemmer kan jy binne 3 – 4 dae eet.
Heel stukke gemmer, binne 3 – 4 weke.
Resep: Mike Viviers