

TUISGEMAAKTE PASTA MET TAMATIE-EN-FRIKKADELSOUS
Hierdie is ‘n tipiese Bolognese vleissous maar met ‘n lekker kortpad kinkel. Ons gebruik worsvleis wat al klaar gegeur is. Gebruik jou gunsteling boere wors of worsresep vir hierdie sous.
Pasta
200 g koekmeel
2 medium eiers
knippie sout
Om die pasta te maak, verwerk die eiers, meel en sout in ’n voedselverwerker tot krummels vorm. Druk bymekaar om ‘n deeg te vorm en laat effe rus tot jy reg is om dit uit te rol.
1 kg ryp rosa tamaties
2 rooi uie, gekap
sout en peper na smaak
2 ansjovisfilette per persoon
hand vol ontpitte swart olywe
1 rissie met pitte, opgekap
Basilliekruid
Soyasous na smaak
1 kg beeswors
Parmesaan kaas vir opdieninig
Braai die uie in bietjie olie en geur met sout en peper. Voeg nou die tamaties by en kook tot ‘n lekker sous vorm. Proe nou hieraan – jy sal dalk bietjie suiker moet byvoeg as jou tamaties nie soet genoeg is nie.
Voeg die rissie, olywe en antjovis by en kook af tot ‘n lekker sous vorm. Geur met bietjie soyasous.
Trek die wors uit die vel en maak balletjies daarmee. Braai in ’n pan met lekker warm olie in tot net afgeseël.
Voeg dit nou by die tamatiesous en kook tot die vleis net gaar is.
Rol die pasta uit en sny in papadelle. Kook tot gaar en dreineer. Sit dit binne in die sous en roer deur, maar nie te veel dat die pasta breek nie.
Breek nou stukkies basillie kruid oor sowel as parmesaan kaasskerwe.






