

GESTOPTE GEBAKTE BOTTERSKORSIE (BUTTERNUT)
1 groot botterskorsie
1 fyngekapte ui
1 gekapte soetrissie
250 g sampioene in skyfies gesny
125 ml melk
1 pakkie romerige veggie bake
250 ml gekrummelde Fetakaas
Kook die hele, ongeskilde botterskorsie in water vir 25 minute sodat dit gedeeltelik gekook is of stoom dit in die groentestomer. Verwyder versigtig van die water, sny dit in die helfte deur en skep die pitte uit. Skep nou van die vlees uit om die holtes dieper te maak en hou die uitgeskepte pampoen eenkant. Plaas die uitgeskepte helftes in ‘n oondbak met die uitgeholde kante na bo.
Verhit bietjie olie in ‘n pan en braai die ui en soetrissie tot sag. Voeg die sampioene en uitgeskepte pampoen by. Meng die melk en die inhoud van die pakkie Veggie bake en giet dit by die res in die pan. Roer goed deurmekaar en laat prut vir 5 minute by ‘n lae hitte. Verwyder van die hitte en meng die Fetakaas daarin. Stop die holtes van die pampoenhelftes styf met die vulsel en bak by 180ºC vir 25 minute tot goudbruin. Maak seker dat die pampoen deeglik sag gekook is deur ‘n skerp mes in die dikste deel van die vlees te druk. As dit sonder moeite ingaan, is die pampoen gaar. Sprinkel nog bietjie Fetakaas en gesnipperde Chives bo-oor en bedien.
Foto en resep: ADAM CLOETE






