

RYK VRUGTEKOEK-FLATERVRY
4½ koppie korente ) Alternatiewelik gebruik ek die pakkies
4½ koppie sultanas ) vrugtekoekmengsel wat alles in het
4½ koppie rosyne )
4½ x 250 g pakkies
3 pakkies gesnipperde dadels (heel bo-op die vrugte)
3 teelepels koeksoda
3½ koppies suiker
500 g botter of margarien
1 x 750 ml bottel soet Hanepoot-wyn
2 koppies kersies (rooi/ groen)
½ pakkie gemengde skil
7 (groot) of 8 (klein) geklitste eiers
Opsioneel (een koppie van elk): Gemmerstukke, waatlemoenstukke en groen vyestukke
Neute (word galsterig as die koek lank gebêre word). Sonneblomsaad kan as plaasvervanger gebruik word.
1) Gebruik ‘n dikboomkastrol en smelt die botter/margarien oor ‘n lae hitte. Voeg die wyn by.
2) Plaas die droëvrugte in die wynmengsel en roer dat dit nie vasbrand nie.
3) Sit die gesnipperde dadels bo-op die vrugtemengsel en voeg die koeksoda by. Sit pot se deksel op en laat die mengsel oor ‘n stadige hitte kook vir vyf minute – moenie roer nie.
4) Haal van die stoof af en laat die mengsel koud word.
5) Wanneer die mengsel koud is, voeg die kersies (rooi/ groen) en gemengde skil by, asook die gemmerstukke en ander opsionele bestanddele. Voeg die eiers by die mengsel en roer goed deur.
Sif die volgende saam:
8 koppies koekmeel
2 teelepels sout
6 teelepels bakpoeier
4 teelepels gemmer
4 teelepels gemengde speserye
8 teelepels kakao
Ekstra:
1 koppie meel by indien die mengsel baie slap is of 1 koppie swart koffie indien te styf.
Voeg die droë bestanddele by die vrugtemengsel en roer goed deur. (Voeg nog 1 koppie meel by indien die mengsel baie slap is of ‘n koppie swart koffie indien te styf).
Verdeel die deeg in koekpanne. Hierdie mengsel maak drie 18 cm koeke van + 5 lb elk).
Bakmetode:
Voorverhit die oond tot op 120ºC. Plaas die koeke op die middelste rak van die oond (indien nie ‘n waaieroond nie) en bak vir een uur teen 120ºC.
Verminder die oond se temperatuur na ‘n uur tot 110ºC en bak vir drie en ‘n kwart uur (tot vier ure indien groter panne gebruik word). Bak tot medium bruin. Toets die koeke deur ‘n toetspen in te steek.
—oOo—
VOORBEREIDING VAN PANNE:
Panne moet verkieslik voorberei word voordat die meelmengsel aangemaak word sodat die deeg onmiddellik in die panne geskep kan word.
1) Smeer die panne met botter/margarien.
2) Voer uit met waspapier of foelie (ek gebruik foelie met die blinkkant na die pan toe en die dowwe kant na die deeg se kant toe).
3) Vou bruinpapier dubbel en sit buite om die panne en maak met ‘n stukkie lyn vas.
4) Sny ‘n bruinpapier (dubbel) so groot soos die pan vir ‘n deksel en plaas dit bo-oor die koek wanneer dit in die oond gesit word.
Klaargebakte koeke:
Giet gereeld ‘n bietjie brandewyn oor die koeke en draai in foelie toe. Onthou om aan die onderkant van die koek ook brandewyn te giet. Laastens giet ek ‘n bietjie Van der Hum oor die koeke. Dit maak dit heerlik. Hierdie koeke kan vir lank gehou word!
Foto en resep deur Elize Colton






