

GEMARINEERDE GROENTE KEBABS
Groente kebabs gemarineer en op die kole gebraai ipv slaaie, vark tjoppies en kaaswors vir ons Sondag middagete.
Gebruik stewige groentes wat nie uitmekaar sal val wanneer dit gaar word. Ek het gebruik:
mielies
baba aartappeltjies
uie
rooi en geel soet pepers
murgpampoentjies
wit sampioene
eiervrug
Die aartappeltjies en gesnyde mielies het ek saam vir 7 min in mikrogolf gekook voor die tyd.
Sny die ander groente in blokke en hou eenkant terwyl jy die marinade aanmaak.
Marinade:
50 ml olyfolie
100 ml saad olie
50 ml suurlemoensap
2 knoffel huisies
½ teelepel gedroogde roosmaryn
vars gemaalde swart peper
groot knippie gerookte rissie vlokkies
½ teelepel gerookte paprika
In my vysel het ek die knoffel, roosmaryn, peper, rissie vlokkies en gerookte paprika fyn gestamp en bietjie olie bygesit om al die fyn kruie/speserye geure bymekaar te kry en by die olie en suurlemoensap gegooi.
Sit al die gesnyde groente (behalwe die aartappels en mielies) in plastieksak wat groot genoeg is vir al die groente.
Gooi die marineer sous oor en knoop die sak goed toe.
Masseer die sak groente totdat al die groentes nat is.
Sit netso in die sak in die yskas vir 3 ure.
Sit die bamboes/hout stokkies in water vir ten minste 15 min. Dit sal verhoed dat die stokkies brand op die vuur.
Ryg die groentes op die stokkies en braai oor die kole vir paar minute.
Bedien saam met braaivleis.
Foto en resep: Elsabie Templeton






