

SUURLEMOEN MERINGUE TERT
Ek het onlangs ‘n staanklitser aangeskaf en ek het besluit om dit uit te toets met ‘n suurlemoen meringue tert. Ek het Ina Paarman se resep gebruik en dit het heerlik uitgekom. Hier is die resep:
Ek het twee terte uit die resep gemaak.
Kors:
1 pakkie Tennis beskuitjies
60 ml gesmelte botter
Vulsel:
2 blikkies kondensmelk
125 ml kookwater
125 ml suurlemoensap
4 eiergele
knippie sout
10 ml maizena
Meringue:
4 eierwitte
10 ml suurlemoensap
60 ml strooisuiker
60 ml versiersuiker
Voorverhit die oond tot 170°C.
Spuit twee 22 cm tertpanne (ek het die foelie tipe panne gebruik) met kleefwerende sproei. Krummel die beskuitjies en meng dit met die gesmelte botter.
Deel die beskuitjies tussen die panne en druk dit vas teen die bodem en die kante van die panne met die agterkant van ‘n lepel.
Plaas die panne in die vrieskas tot die vulsel gereed is, sodat die kors kan ferm word.
Klits die kondensmelk (gebruik die kookwater om al die kondensmelk uit die blikkies te kry), suurlemoensap, eiergele en sout baie goed saam.
Haal die panne uit die vrieskas en gooi die vulsel versigtig bo-op die kors, sodat die beskuitjies nie versteur word nie.
Bak die tert (sonder die meringue) vir 20 minute.
Vir die meringue, klits die eierwitte in ‘n skoon glas/metaal bak totdat dit begin skuim.
Gooi dan die suurlemoensap by en klits tot stywe punte vorm.
Gooi die strooisuiker lepel vir lepel by terwyl die mengsel vinng geklits word.
Sif die versiersuiker 3 keer en voeg dit op dieselfde manier by as die strooisuiker.
Die meringue moet styf en glanserig wees.
Dit moet ook in staat wees om vorm te behou.
Sif die Maizena oor die tert as dit uit die oond gekom het, dit word gebruik as gom vir die meringue laag.
Skep groot lepels vol van die meringue op die warm tert en versprei dit tot by die punte van die kors.
Gebruik ‘n lepel om die meringue tekstuur te gee.
Bak die tert vir ‘n verdere 25 minute.
Sit dan die oond af en maak die deur ‘n skrefie oop.
Los die tert in die oond totdat dit heeltemaal afgekoel het.
As die tert afgekoel het, kan dit in die yskas gebêre word om te keer dat die meringue kraak.
Foto van resep: Marné Jacobs






