


JOHAN SE TAMATIE KONFYT
Dié naweek was Tamatie Konfyt naweek.
Saterdag middag is gebruik om die skille van die Cherry Tamaties af te kry. (Al word daar gesê die velletjies kom maklik af, deur 9 kg gevrieste tamaties in water te sit sodat die velletjies bars, is dit steeds harde moeisame werk).
Daarna is die “kaal” tamaties in lae van tamaties en suiker gepak (byvoorbeeld 1 koppie tamaties en 1 koppie suiker)
Die voorbereiding is nou klaar en is dit oornag gelos om te “trou”.
Sondagoggend is die stoof op ‘n matige hitte geplaas sodat die suiker eers kan smelt voordat die mengsel kookpunt bereik.
Ek het nie die Cherry Tamaties versnipper nie.
Ek het hulle heel verwerk.
Ek het 3 suurlemoene se sap in die 9 kg mengsel uitgedruk.
Ek het al die suurlemoen pitte sommer ook in die kooksel laat saampraat.
Ek het die 3 uitgedrukte suurlemoene skil en al ook laat saamkook.
Ek het twee opgehoopte 2 eetlepels fyn gemmer bygesif en deur geroer.
Ek het so 40 min op matige hitte gereeld geroer en toe is die 9 kg op kookpunt.
Roer gereeld vir nog ‘n uur om te verhoed dat die konfyt onder in die kastrol aanbrand.
Mettertyd kom jy agter die tamatiemengsel se kleur raak so diep rooi, jy voel die lepel roer ook nou effens moeiliker as in die begin.
Daar kom ook ‘n mooi glanserige skynsel bo-op die kokende konfyt.
Ek het so twee teelepels van die warm konfyt op ‘n bordjie gegooi om af te koel.
Toe ek na 10 min my vinger deur die konfytkol trek en dit nie toevloei nie, het ek geweet die stollings staduim is bereik.
Ek het met ‘n gaaitjies lepel al die suurlemoen pitte uitgeskep en die halwe suurlemoene so teen die kant van die kastrol gedruk om al die sap en pektien in die konfyt te kry.
Daarna het ek die halwe suurlemoene en pitte weggegooi.
My bottels is skoongewas en in die oond op 130°C vir 20 minute gesteriliseer.
Die konfyt is warm gebottel.
Ek het kerswas gesmelt nadat die konfyt afgekoel het en elke bottel se konfyt daarmee geseël.
Die kerswas is nie nodig nie, maar dit is hoe ek dit wel verkies.
Die konfyt kan 3 jaar in die spens op die rak staan sonder om ‘n muf lagie te vorm.
Foto en Resep: Johan Maritz






