


RETHA SE SUURDEEG BROOD (SOURDOUGH)
Ek deel graag my resep vir sourdough brood. Ek bak nou al vier jaar sourdough en ek het mettertyd die resep vereenvoudig alhoewel dit nogsteeds ‘n bietjie beplanning vereis – jy kan nie net besluit jy wil netnou bak nie. Jy moet jou plantjie (starter) tenminste ‘n dag voor die tyd uit die yskas haal en 3 keer voer – so 8 ure uitmekaar en as jy seker is dis lekker lewendig kan jy jou brood begin meng.
https://www.foodloversrecipes.com/2016/03/suurdeeg-boer-brood-stap-vir-stap/
Sourdough brood: Al wat jy moet onthou vir 2 brode is: 3-6-9
300 g starter
600 g water (altyd gesuiwerde water want die chloor in gewone water affekteer die starter)
900 g broodmeel (ek gebruik Eureka – dis die gesondste)
Meng alles saam in ‘n bak, maak toe met ‘n plastiese sak en laat ‘n halfuur rus – dit word autolyse genoem.
Intussen meng jy saam:
1 eetl. sout (gebruik ordentlike himalayan of natuurlike sout, want die bleikmiddels in gewone sout is nie goed vir jou plantjie nie)
2 eetl. bruinsuiker
100 ml olyfolie
125 ml water
Roer die mengsel goed om die sout te probeer oplos. Nou meng (nie knie nie) jy die soutmengsel by jou meel in.
As dit goed gemeng is, maak jy die bak weer met plastiek en ‘n vadoek toe. Jy gaan nie die tradisionele knie doen nie, jy gaan die deeg elke 15 minute ‘stretch and fold’ terwyl jy die bak met 90 grade roteer na elke sarsie.
Jy gryp letterlik ‘n handvol deeg en lig dit op en druk dit terug in die middel van die bol deeg, dan draai jy die bak en doen dit weer totdat jy reg in die rondte gegaan het.
Herhaal hierdie proses elke 15 minute vir 4 ure.
Nou sal jou deeg lekker elasties wees en as jy dit optel en uitrek sal dit nie breek nie.
Gooi deeg uit op ‘n skoon oppervlak – hier is ‘n deegskraper lekker om die deeg te hanteer want dis ‘n slapperige, natterige deeg.
Deel deeg in twee en rol elke porsie op om ‘n broodvorm te kry en plaas in gesmeerde broodpanne.
Dis ‘n nat deeg en aan die begin is dit moeilik om mee te werk, maar dit word elke keer makliker om die brood te vorm.
Sit die twee broodpanne in ‘n groot plastieksak en plaas vir tenminste 8 ure in die yskas – moenie skrik, dit rys nie eintlik nie.
Haal brode uit die yskas, en sit die oond aan op die heel warmste wat dit kan gaan – myne gaan net tot 230 grade C.
As die oond op hitte is, maak ‘n snit in die lengte bo-op die broodjie met ‘n skerp mes of skêr (dit help die brood om te rys), sit die broodpanne in die oond en draai die oond af na 200 grade C.
Bak vir so 40-45 minute tot lekker bruin gebak.
Ek verdubbel gewoonlik die resep om 4 brode te bak.
Dit vries baie goed en maak die heerlikste krakerige roosterbrood.
Foto en Resep: Retha Sorum Burger
2de foto: Bets Lourens – Lieflike deeg, maar die elke 15 minute knie vir 4 ure werk nie vir my nie. Maar moet se ek LOVE hierdie sourdough suurdeeg brood.






