


MOSTERD STEAK
Die een is so lekker – jy sal hom 2 keer n week wil maak
Lewer 4 – 6 porsies.
Dis by verre my gunsteling manier om steak voor te berei vir ’n braai.
En die romerige mosterdsous wat bo oor kom, is só lekker, jy sal jou bord wil uitlek!
Onthou net die gulde reël vir steak braai – die vleis moet kamertemperatuur wees voor dit gebraai word en hoe warmer die kole, hoe beter.
1 kg steak van jou keuse – teen kamertemperatuur
30 ml Dijon mosterd
olyfolie
balsamiese asyn
sout en vars gemaalde swartpeper – na smaak
sap van 1 suurlemoen
Smeer die steaks goed in met die mosterd, drup olyfolie oor en laat staan vir 10 minute.
Drup balsamiese asyn oor.
Draai die steaks om sodat albei kante met ’n asyn en olie lagie bedek is.
Sit op die rooster en geur met sout en peper.
Braai vinnig op warm kole tot geseël, draai om en geur aan die ander kant met sout en peper.
Braai tot gaar na smaak.
Verwyder van die kole en druk vars suurlemoensap bo oor uit.
Laat rus die vleis vir 5 – 10 minute.
MOSTERDSOUS
500 ml room
30 ml heel korrelmosterd
20 ml heuning
sout na smaak
Verhit die room, mosterd en heuning tot kookpunt en kook vinnig tot dit met die helfte afgekook is en begin verdik.
Geur na smaak met sout en sit voor met die steak.
Sit voor met knoffelbrood of aartappels en slaai
hou die kole warm
Foto 1 en resep geplaas deur Judy Loock
Foto 2: Amanda Conradie en Elize de Kock






