BOERE-LAGOS HOENDERLEWERTJIES
Ek het by ‘n Indier vrou in Lagos geleer lewertjies maak – en ek kan om die dood nie haar naam onthou nie. Daar is nie juis hoeveelhede nie want dit gaan maar oor hoe jy daarvan hou. Ek sal my bes probeer met hoeveelhede.
1 ui, in stukkies gesny
2 tamaties, in stukkies gesny
3 knoffelhuisies, gekerf
1 rissie, gekerf (of na smaak)
1 teelepel gemengde kruie (of na smaak)
500vg hoenderlewertjies, skoongemaak en gal verwyder
1 koppie rooiwyn
1 koppie room (of jogurt)
sout na smaak
varsgemaalde swartpeper na smaak
1 eetlepel pietersielie
Soteer die uie. Voeg die tamaties by en braai tot water weggekook is.
Voeg gemengde kruie, knoffel en rissie by en roer deur.
Voeg die lewertjies by en braai tot dit alles van kleur verander het en begin verbruin.
Gooi die rooiwyn by (genoeg om alles te bedek).
Sodra dit begin kook stel jy die hitte af sodat dit prut.
Wanneer helfte van die wyn weggekook is gooi jy die room by en bring tot ‘n kook.
Geur met sout en peper (paprika gaan ook lekker hier by).
Laat dit kook tot jy gelukkig is met die dikte van die sous. Roer die pietersielie deur.
Bedien met platbrood.
Bron : Wayne Dugmore