

GROOTMAAT VRUGTEKOEK
1,5 kg vrugtekoekmengsel
500 g dadels, gesnipper
200 g rooi glanskersies, gehalveer of grof gekap
500 ml brandewyn
500 g pekanneute, gekap
500 g sagte botter of margarien
500 ml bruinsuiker
6 eiers
10 ml vanieljegeursel
900 ml koekmeel
5 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
5 ml kaneel
5 ml fyn gemmer
5 ml gemende speserye
Meng die vrugtekoekmengsel, dadels, kersies en brandewyn in ’n groot bak. Bedek met kleefplastiek en laat staan teen kamertemperatuur vir minstens 4 uur of oornag. Voeg die pekanneute by en roer goed. Voorverhit die oond tot 140˚C en smeer drie koekpanne van 20 cm met olie. Voer die boom en kante uit met twee tot drie lae bakpapier. (Jy kan ook ’n kraag van bruinpapier om die panne draai as jy wil.)
Verroom die botter en suiker goed saam en voeg die eiers een vir een by. Voeg die vanieljegeursel by en klits goed. Voeg die bottermengsel by die vrugtemengsel en meng deur. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda, kaneel, gemmer en gemengde speserye bo-oor en meng goed. Verdeel die beslag tussen die panne en smeer gelyk. Bak die koeke vir ongeveer 2 uur en 15 minute of tot ’n toetspen skoon uit die koeke kom.
Laat die koeke vir minstens 20 minute in die panne afkoel en keer uit op ’n draadrak om verder af te koel. Draai elke koek in foelie toe en klam nou en dan met ’n bietjie brandewyn aan. Lewer 3 middelslag-koeke
Resep geplaas deur Rina Kleinhans
Foto: Bettie Venter






