SONGEDROOGTE UIE MOSTERD SOUS
Ons soek altyd iets anders om te maak met groenbone en gister het ek hierdie heerlike sousie gemaak en net bo-oor opgekookte boontjies geskep en mense dit is nou regtig ‘n heerlike sous, ek dink dit sal ook heerlik wees oor aspersies of gemengde groente. Dit is een van daai souse wat mens na smaak maak.
SONGEDROOGTE UIE MOSTERD SOUS
Neem soveel heel groenbone soos wat jy benodig vir die aantal mense wat jy gaan bedien. Ek neem so ongeveer 10 boontjies per persoon, plaas in ‘n pot op die stoof en sit bietjie sout by en net genoeg water om die boontjies te bedek. Gooi lekker baie van die songedroogte uie by. Ongeveer half koppie, hang af hoeveel sous jy wil maak.
Kook tot die boontjies sag is, maar nie pap nie (nog krakerig) sonder ‘n deksel.
Haal die boontjie uit en spoel dadelik af onder koue water. Sit eenkant
Besluit hoeveel sous jy wil maak en vul die water in die pot aan indien nodig, bring tot kookpunt, maak bietjie maizina aan met water en gooi dit by jou sous in die pot, draai jou plaat baie laag en laat dit lekker deurkook, dit sal nou dik wees, dit moet soos dik vla lyk. Haal van die stoof af. Sit nou tuisgemaakte soet mosterd by na smaak en heel laaste bietjie room. Net genoeg dat jy ‘n lekker loperige dik sous het. Hou alles warm en bedien die sous oor die boontjies. Garneer met van die gedroogte uie….
Nota:
Jy kan die mosterd uitlaat en vervang met kaas van jou keuse, sit die kaas by net voor jy die room byvoeg.
Koop die songedroogte uie by die meeste supermarkte.
Regtig heerlik….
Bron: Rina Kleinhans.








