WONDERWOLK POF-OMELET
Min bestanddele word gebruik, so gebruik net die beste: vars vryloop-eiers, egte botter en pas gerasperde neutmuskaat. Hou die vulsel ook eenvoudig, selfs net gerasperde kaas en vars kruie. Bedien met roosterbrood vir ‘n bietjie tekstuur.
Genoeg vir 1 omelet
2 eiers
sout en peper na smaak
gerasperde neutmuskaat
‘n stewige klontjie botter (nie margarien nie)
vulsel van jou keuse
Skei die eiers. Klits die eierwitte totdat dit stywe punte vorm.
Gooi 15 ml kraanwater by die eiergeel in ‘n bakkie en klits tot skuimerig. Geur met sout en peper.
Smelt botter in ‘n mediumpan, gooi die eierwit in die pan en giet dan die geklitste eiergeel bo-oor. Moenie roer nie.
Bak tot goudbruin onder en met die eierwit geset, maar nog wolkerig.
As jy wil kan jy die omelet met pan en al vir ‘n minuut onder die roosterelement plaas om die bokant hitte te gee.
Gooi die omeletvulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan tot op jou mooiste brekfisbordjie.
Foto: Elsabie Templeton









Elsabie Templeton
Ek sal dit nooit weer die Franse manier maak soos al die jare voorheen! Klassiek word die eierwitte wel geklits tot styf en dan by die gele ingevou. Dit gee ook lieflike pofferige effek maar dit sak tog af. Hierdie ene nie! Ek het rukkie gewag voor ek geëet het om te kyk wat gebeur en dit bly staan
Janie Smit Rautenbach
Hierdie is ongelooflik lekkr.My Duitse skoonsus maak dit gereeld, en is baie vullend. Ek gee dit n 10 uk 10!!!!