JELLIE KAASKOEK
Hierdie reseppie is verspot maklik om te maak, en dit is heerlik lig na ‘n swaar ete van braaivleis! Jy kan die resep verdubbel as jy ‘n dikker tert, of vir meer mense moet poeding gee. As jy wil uithang kan jy die kaaskoek in individuele glasie maak in plaas van ‘n jellieringvorm, en opdien met styfgeklitste room en/of bessies of aarbeie (nie ingereken nie)
1 pakkie suikervrye jellie, enige geur
125 ml kookwater
250 ml room
250 g roomkaas, saggemaak
Los die jellie in die kookwater op. Laat afkoel. Klits die room tot styf. Klits die roomkaas tot sag. Voeg klein bietjies van die afgekoelde jellie daarby en klits goed na elke byvoeging. Vou die styfgeklitste room liggies in. Giet die mengsel uit in ‘n jellieringvorm en laat in die yskas om te stol.
Oorspronklike resep : Die LowCarb Kombuis
Foto: Eileen Drage-maritz
Het net my eie variasies gemaak. Verskillende geure jellie en vrugte bygesit.
Ek het die resep van die jellie kaaskoek netso gevolg en nog jellie gemaak vir onder. Dit eers laat stol en toe kaaskoek opgesit oornag in yskas en weer jellie gemaak vir bo-op. Bietjie baie werk maar dis die moeite werd.








