SOETRISSIE EN FETA PESTO
Sorg dat jy altyd pesto in die yskas het. Dis perfek om deur pasta te roer, op ’n toebroodjie of geroosterde biefstuk te smeer of onder die vel van ’n hoender te vryf voordat jy dit rooster.
Maak: 500 ml
2 rooi soetrissies, gerooster en die skilletjies afgetrek
2 knoffelhuisies, geskil
150 g sondroogtamaties
250 ml Fetakaas, gekrummel
50 g geroosterde dennepitte of amandels
250 ml olyfolie
sout en vars gemaalde swartpeper
Plaas al die bestanddele behalwe die olyfolie en geurmiddels in ’n voedselverwerker en pols tot gemeng – dit moet nog effens grof wees.
Giet die olyfolie by en pols die pesto tot die olie deurgemeng is.
Geur na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper.