HEINER SE TAMATIESMOOR
’n Worsbroodjie of pizza sonder tamatiesmoor is soos ’n huis sonder ’n stoep.
Dit vries boonop uitstekend.
Jy benodig (vir sowat 500ml)
2 eetlepels olyfolie
2 uie, gekap
2 vet knoffelhuisies, gekap
8-10 rooiryp tamaties, skilletjies afgetrek en gekap
½ koppie rooiwyn
3 eetlepels tamatiepasta
’n goeie hand vol vars basilie, rofweg geskeur
1½ teelepel suiker
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
’n Tranetrekker. Verhit die olyfolie in ’n groot kastrol en soteer die uie oor matige hitte tot sag en deurskynend.
Voeg die knoffel by en roerbraai dit vir nog ’n minuut.
Prut, prut. Voeg die res van die bestanddele by en geur dit met sout en peper.
Verhit die mengsel tot kookpunt, draai die hitte laer en prut dit vir 1-1½ uur met die deksel skuins op tot die sous dik en geurig afgekook is.
Gebruik ’n handmenger om die sous te verpulp.
Druk hom in ’n blik. Jy kan die sous nou in gesteriliseerde flesse inmaak óf dit vries sodra dit heeltemal afgekoel het.
Weg sê: Ja, ja, ons weet jy’s ’n All Gold-man, maar dié sous kry vars tamaties en kruie.
En moenie die skeutjie wyn vergeet nie…
Bron: Heiner Lange.