PASTEIDEEG VIR GROOT OF KLEIN MAAT
‘Roast Beef’ pastei – die ‘leftovers’ van nou die dag se roast beef opgekap, bietjie opgekikker met soya sous, en bedek met tuisgemaakte skilferkors.
Die resep wat ek gebruik, is lekker omdat dit aangepas kan word vir groot of klein maat.
Die bestanddele is eenvoudig – meel, botter en sout, met genoeg yswater om ‘n baie stywe deeg te vorm.
Verhoudings is 2.5 keer meer meel as botter, en 1 teelepel sout vir elke 500 g meel.
Sny helfte van die botter in blokkies en sit saam met die meel en sout in ‘n voedselverwerker, en prosesseer tot dit soos krummels lyk.
Hardloop dan die masjien op stadig en voeg die yswater baie stadig by tot dit begin klonte vorm.
Keer uit op ‘n werksoppervlak en knie tot goed gemeng. Rol uit en plaas die res van die botter in die middel, vou die deeg rondom en rol uit tot sowat .5 cm dik. Vou in derdes oormekaar, draai toe in plastiek en rus in die yskas vir 30 minute. Dis draai 1! Rol weer, vou weer en rus weer. Dis draai 2. Herhaal weer, dis draai 3. Hierna kan die deeg uitgerol word so dun soos jy wil hê vir gebruik.
Resep en foto: Leonie Overbeek








