BESTANDDELE
2 pakkies vars sampioene – jy kan enige soort sampioene gebruik
1 medium ui, gekap
1 -2 huisies knoffel, fyngemaak
3 eetlepels botter
4 opgehoopte eetlepels Maizena
1 koppie (250ml) hoenderaftreksel
2 koppies (500ml) volroommelk
250ml room OF ingedampte mek (Ideal milk) OF 1 bakkie Creme fraiche
5ml Ina Paarman gegeurde sout (Seasoned Salt, blou doppie)
Knippie suiker
AANWYSINGS
1. Sny die sampioene in skyfies.
2. Smelt botter in ‘n groot genoeg pot. Voeg uie en knoffel by en braai oor medium hoë hitte tot uie sag is. Voeg dan die sampioene by en roerbraai tot net sag.
3. Verwyder van hitte en roer die Maizena by. Stel plaat se hitte af na laag.
4. Voeg die hoenderaftreksel, melk, gegeurde sout en knippie suiker by en roer deur. Plaas terug op plaat en verhit terwyl jy kort-kort roer en dit begin verdik.
5. Roer dan die room by. Indien die sop té dik is na jou smaak, voeg ‘n bietjie melk of hoenderaftreksel by. Indien jy dit dikker verkies, meng nog ‘n eetlepel Maizena met ‘n bietjie melk en voeg by, laat dit oor lae hitte verdik.
Nota:
1) Indien jy gladde sop verkies kan jy dit whiz met ‘n blender, maar doen dit dan voor jy die room byvoeg. Jy kan ook net die helfte whiz vir net ‘n effens chunky sop.
2) Indien jy nie Ina Paarman se gegeurde sout in die huis het nie sal die Polisie jou kom toesluit, want dis ‘n groot sonde en sommer plainweg onwettig om sonder dit kos te maak! Ha ha grappie…. maar regtig, jy mag nooit sonder hierdie wonderspesery wees nie, skaf dit gerus aan en sien hoe dit absoluut alles wat jy maak se geur 100x verbeter. As jy dit nie het nie gebruik sout, varsgemaalde swart peper en ‘n knippie neut in die plek daarvan. ‘n Knippie suiker verbeter altyd die geur van sampioene.
3) Garneer met gekapte pietersielie of vars tiemie, indien verkies.
4) Bedien saam met knoffel-kaas broodjies.
Foto en resep: Louise Groenewald








