
FILO HAMBURGERS
Bedien: 6 persone
Filo:
4 velle filodeeg
60 ml gesmelte botter
Hamburgerfrikkadelle:
500 g maer beesmaalvleis
60 ml volgraan meel of droë broodkrummels
45 ml melk
5 ml sout
2,5 ml braai-speserye of enige gunsteling speserye vir vleis
2,5 ml paprika
5 ml mosterdpoeier
2,5 ml gemengde droë kruie
5 ml bakpoeier
1 eier
10 ml tamatiesous
10 ml warm of matige vrugteblatjang
125 ml ui, fyngekap
10 ml gekapte vars pietersielie
Slaai van jou eie keuse, byvoorbeeld blaarslaai, gesnyde tamatie, beet en uie-ringe, gunsteling slaaisous en / of tamatiesous.
Verhit die oond tot 180°C en smeer ‘n bakplaat met botter.
Plaas die 4 velle filodeeg bo-op mekaar op die werkoppervlak met die kort sy na jou toe. Vou die kante 1/3 na binne en druk liggies op die voue. Vou weer oop en sny langs die voue.
Sny die lang repe elk in 4, wat los met 48 blokkies.
Plaas 12 blokkies op die bakplaat en verf dit liggies met gesmelte botter. Plaas nog ’n blokkie op elkeen en verf weer. Hou so aan tot jy 12 stapels van 4 velle elk het.
Bak die stapels in die oond vir 4 tot 5 minute of tot dit strooikleurig en bros is.
Om die burgers te maak plaas jy al die bestanddele in ’n mengbak en meng goed.
Verdeel die mengsel dan in 6 en vorm dan elkeen met meelbestrooide hande in ronde burger patties; ongeveer 2 cm dik en 8 cm in deursnee.
Verhit net genoeg olie om die oppervlak van jou pan te bedek en braai die burgers bruin en gaar; ongeveer 5 minute aan albei kante.
Om te bedien plaas jy ’n stapel filo op die bord, plaas ’n burger pattie bo-op en rangskik ’n slaai op die burger. Plaas dan nog ’n stapel filo op die slaai en bedien.
Resep: Carolie de Koster






