RAAD VIR TAAI VLEIS
Hallo julle, iemand het gevra oor hoe om met taai vleis te maak…uit ervaring en kennis as voedselkundige hier is die verduideliking oor die oorsake en hoe jy dit kan versag….
‘n Baie belangrike beginsel as dit kom by taaivleis is tyd en die suur wat jy byvoeg om die bindweefsel af te breek. Daar is ‘n paar redes waarom die vleis mag taai wees…(en ons hoop dit is skaap). 1, die dier is baie oud of 2, die dier was onder stress toe hy geslag was en 3, die dier het nie lank genoeg gehang sodat die melksuur in die spiere kon weggaan sodat die bindweefsel kan ontspan. Mense wat sulke taaivleis verkoop se name moet geplaas word, omdat hulle nie die dier en die klient in ag neem nie….geld geld geld.
As jy na sure gaan kyk soos vleis versagter dan is die hoof bestanddeel papaien…’n suur wat in papaja voorkom en dit breek proteine op…maar deesdae word dit chemies of kunsmatig vervaardig. Dit is net te sterk. Maar as jy iets soos yoghurt of Karringmelk gebruik is die suur wat teenwoordig is eintlik ‘n Lakto basillis (Bakterie, lewende organisme) wat spesefieke smake gee en ook proteine gebruik om te kan opbreek. DIT is dus ‘n natuurlike proses nie chemies soos met vleisversagters. Jy sal dus nie ‘n melerige tekstuur kry.
Moenie tydens die marineer proses enige soute byvoeg omdat dit die protein se afbreek belemmer en vog uit die vleis trek sodoende word die vleis droog en bly taai…sout word eers bygevoeg as die vleis gaargemaak gaan word.
Hier kan jy ook ‘n kombinasie van gaarmaak metodes gebruik. Jy kan die vleis eers in kaserol gaarmaak en dan oor die kole lekker braai om smaak te gee en ook dan ‘n soetsous oorsit vir daardie ekstra lekkerrrr! Hierdie marinade gebruike ek ook om alle taai vleis snitte te behandel soos bolo vir sosaties….bolo (skof gedeelte van bees) is kenmerkend taai maar dit is baie geurig. Selfs hoender kom ongelooflik heerlik met die marinade uit. Ek marineer alle nuwe vleis so en bevries dit marinadesous en al…So speel lekker.
Ek hoop nie die inligting is grieks nie, maar dit so basies as moontlik gehou.
Hier volg die resep wat ek altyd gebruik:
Marinade vir die eerste sag maak proses:
250 ml karringmelk
10 ml suurlemoensap
20 ml olyfolie
kruie van keuse: skaap – roosmaryn, salie, ment, komyn, fennegriek, knoffel.
Hoender – dill tippies, marjoram, origanum, fennel saadjies, mosterdsaadjie (geel en swart)
Meng al die bestanddele met mekaar en vryf in die vleis in. Die resep is genoeg vir 1 hoender of halwe boud. Laat die vleis verkieslik oornag in die marinade staan of 4 ure. Moenie die marinade weggooi, want dit word by die volgende marinade gevoeg.
Marinade vir gaarmaak:
125 ml appelkooskonfyt of blatjang
50 ml olyfolie
50 ml balsamiese asyn
50 ml sagte bruinsuiker
50 ml heuning
15 ml knoffel
50 ml vars roosmaryn, gekap, stingels verwyder,
sout en peper na smaak
Meng al die bg bestanddele saam (behalwe sout), voeg die karringmelk marinade by en vryf oor die vleis.
Bak volgens die gewig van die vleis in ‘n baksakkie of in ‘n toe kasserol.
Plaas die vleis onder die rooster element of oop vlamme vir kleur en smaak.
Indien die vleis oornag gemarineer het kan jy dit dadelik op die kole gooi.
Voeg laaste die sout oor.
Seen wense
Geskryf en geplaas deur Annelien Pienaar