

SPINASIE- EN SAMPIOENROULADE
600 g spinasie
30 g botter
4 eiers, geskei
knippie neutmuskaat
1 eetlepel gerasperde Parmesankaas
Vir die vulsel:
15 g botter
250 g gekerfde sampioene
sap van ‘n ½ suurlemoen
sout en peper na smaak
200 ml Crème Fraiche
2 eetlepels fyngekapte pietersielie
Vir die vulsel:
Smelt die botter en voeg die sampioene en suurlemoensap by. Geur met sout en peper en kook vir 3 minute tot dit net begin sag word. Hou eenkant om af te koel.
Was die spinasie en plaas in ‘n kastol met net die water aan die blare. Kook oor ‘n stadige hitte vir 1 – 2 minute tot die blare net verlep. Dreineer goed en druk die blare om die ergste water uit te kry.
Smeer ‘n rolkoekpan en voer dit uit met bakpapier. Smeer die bakpapier ook. Kap die spinasie grof op en plaas in ‘n mengbak. Meng die botter, eier gele, neutmuskaat, sout en peper en roer dit by die spinasie in. Klits die eierwit in ‘n aparte bak tot styf, maar nie droog nie en vou dit dan versigtig by die spinasie mengsel in. Giet die mengsel uit in die pan en bak by 220ºC vir 10 tot 12 minute tot ferm. Sprinkel die Parmesankaas op ‘n vel bakpapier en keer die roulade om op die kaas. Laat afkoel vir 10 minute en trek die bakpapier af. Sny die kante mooi gelyk.
Dreineer die sampioene en hou van die vloeistof eenkant. Plaas die sampioene in ‘n bak en voeg die crème fraiche en die pietersielie by en geur dit na smaak. Roer bietjie van die sampioene se kookvloeistof by indien dit te dik is. Smeer die vulsel oor die roulade, maar laat ‘n 2,5cm oop aan die kante. Rol op van die lang kant, bedek en laat afkoel in die yskas. Sny in skywe om te bedien.
Resep geplaas deur: Adam Cloete






