
RYK VRUGTEKOEK IN DIE MIKROGOLF
Lewer ‘n middelslag-koek –
Die koek moet eers kans kry om ryp te word voordat dit gesny word. Draai dit in aliminiumfoelie toe en laat dit ‘n maand op ‘n koel plek ryp word. Dit kan ook met sukses gevries word.
· 250g dadels
· 250g glanskersies
· 500g droëvrugte-koekmengsel
· 200g (250ml) sagte bruinsuiker
· 250ml swart koffie
· 125g botter of margerien
· 5ml koeksoda
· 100g (250ml) pekan- of okkerneute
· 275g (500ml) koekmeelblom
· 2ml bakpoeier
· 2ml gemengde speserye
· 2ml gemaalde gemmer
· knypie sout
· 2 eiers
· 125ml brandewyn
Bespuit ‘n 2.5 liter-tuitpan (23cm in deursnee en 9 cm diep) met kleefwerende kossproei.
Bedek die boom met ‘n sirkel waspapier met ‘n gat in die middel sodat dit plat onder in die pan kan lê.
Sny die dadels en glanskersies fyn.
Mikrogolg die dadels, glanskersies, droëvrugte-koekmengsel, sagte bruinsuiker, swart koffie en botter/margerien 5 minute oop in ‘n diep 3.5 liter bak by 100% krag en roer die mengsel af en toe.
Roer die koeksoda by.
Kap die neute en roer dit ook by.
Laat die mengsel afkoel tot lou.
Sif die koekmeelblom, bakpoeier, gemengde speserye, gemmer en sout saam.
Roer dit by die vrugtemengsel.
Klits die eiers en roer dit ook by die vrugtemengsel.
Skep die beslag in die tuitpan en maak dit bo-op gelyk.
Plaas die pan op ‘n omgekeerde piering in die mikrogolfoond en bedek dit lossies met ‘n vel waspapier.
Mikrogolf die beslag ongeveer 60 minute by 30% krag tot gaar en draai die pan af en toe as die mikrogolfoond nie ‘n draaitafel het nie.
Laat die koek ‘n rukkie in die pan afkoel.
Giet die brandewyn oor en laat die koek afkoel tot heeltemal koud.
Keer dit op ‘n stuk waspapier op ‘n draadrak uit en trek die sirkel waspapier aan die koek versigtig af.
21 mins · Unlike · 1
uit Mikrogolfwenners deur Annette Human






