

KERSBROOD MET AMANDELSPIJS (STOLLEN)
Amandelspijs / Amandelpasta:
150 g geskulde amandels
150 g suiker
1 klein eier
die gerasperde skil van 1 suurlemoen
Maal die amandels deur n amandelmeul of vleismeul. Vermeng met die res van die bestanddele en maal die mengsel nog ‘n keer deur die meul. Laat die amandelspijs in ‘n geseëlde glaspot staan vir ongeveer 4 dae, dit verhoog die smaak. Indien meer spys benodig, maak die resep dubbel aan.
KERSBROOD:
500 g koekmeel
30 g gis
50 g strooisuiker
300 ml lou melk
1 eiergeel
150 g rosyntjies
100 g korente
75 g versuikerde lemoenskil
2 teelepels suurlemoensap
50 g lemoensnippers
Vir garnering:
25 g botter, gesmelt
10 g sout
50 g versiersuiker
Voorverhit die oond vir 10 minute tot 220 – 240ºC.
Los die gis en suiker op in die melk, voeg die melkmengsel met die eiergeel by die meel en knie dit goed deur soos met brood. Laat die deeg, bedek, vir 30 minute eenkant staan om te rys.
Was die rosyne en korente en laat dit goed uitdroog op kombuispapier, stuif bietjie meel oor.
Kap die versuikerde lemoenskil fyn en meng met die korente, rosyne, suurlemoensap en fyn lemoenskil.
Voeg die korente-mengsel by die deeg en knie die deeg vir omtrent 10 min.
Vorm die deeg in ‘n dik ovaal en bestuif ‘n rolstok met meel.
Van die middel af, rol die rand aan die een kant plat om ‘n dunner gedeelte in die ovaal te skep.
Vorm 300 g amandelspijs in ‘n wors en plaas dit in die middel langs die lengte van die deeg.
Vou die dikker helfte oor die amandelspijs om ‘n kersbroodvorm te skep.
Druk die randte saam om te seël en plaas die brood op ‘n lig ge-oliede bakplaat en bak vir ongeveer 30 min.
Toets met pen of brood gaar is. As die pen skoon uitkom, haal die kersbrood uit oond en laat afkoel.
Bestryk dan met gesmelte botter met die sout in en strooi hieroor die versiersuiker, herhaal hierdie bewerking ‘n paar maal. Ps as julle die gevoel het die kersbrood bak te vinnig stel die temperatuur van die oond ietwat laer.
EET SMAKELIJK.
Resep geplaas: Lummie de Vries






