

ELSABIE SE APPELKOOSBLATJANG
Blatjang aangepas van Eddie Rocher se oorspronklike resep:
2 kg appelkose, ontpit
2 groot uie
8 cm vars gemmer wortel gerasper
1 koppie pitlose rosyne
1 teelepel gedroogde rissie vlokkies (kan aangepas word na smaak, hierdie hoeveel kan jy voel kielie maar dit brand nie jou mond nie, lekker geurig)
2 teelepels mosterdsaad
3 teelepels gekneusde knoffel
2 tteelepels fyn koljander
1 teelepel fyn naeltjies
750 ml bruin “spirit” asyn
900 g bruinsuiker (NIE Demerara, Treacle of sagte bruin suiker, net die gewone bruin suiker omdat ons nie wit suiker gebruik nie)
Kap die uie en appelkose fyn in menger en sit saam met al die ander bestanddele in groot pot en prut stadig totdat die suiker gesmelt is sonder om te brand. Ek het my blatjang vir ten minste 3 ure laat prut totdat dit dikker en donkerder as my konfyt is. Bottel terwyl dit warm is in skoon, warm, gesteriliseerde flesse (ek was my flesse in die skottelgoedwasser dan is dit sommer warm ook) en sit die deksels op terwyl nog warm is. Soos dit afkoel gee ek elke deksel nog ‘n draai om seker te maak dis styf toe. Laat ten minste vir ‘n week of twee staan voordat jy dit gebruik. Die geure sal verbeter hoe langer dit staan.
Die plakker bandjie is van Consol Glass, hulle het baie verskillende soorte, ek het my blatjang met twee geplak en my konfyt met een om te wys dit is nog geseel.
Resep en foto: Elsabie Templeton






