SJOKOLADE POEDING MET SOUS
Foto: Jessica Jessiebaby Dale
FOOD LOVERS RECIPES
Heilie se vinnige resep.
Niks kom by sjokoladepoeding as jy lus is vir ’n lekker bederf nie. Dit bly ’n treffer vir kinders – om van die manne nie eens te praat nie! Die poeding het sy eie sous en dus is dit nooit droog nie. Maar vla of room daarby is altyd ’n opsie!
Maak die poeding in ’n groot bak sodat die sous nie oorbak nie.
Lewer 4 – 6 porsies
80 g botter of margarien
125 ml (½ koppie) suiker
1 ekstragroot eier
375 ml (1½ koppie) koekmeel
10 ml (2 teelepels) bakpoeier
2 ml (¼ teelepel) sout
45 ml (3 eetlepels) kakao
200 ml (¾ koppie) melk
Sous
80 ml (1/3 koppie) suiker
15 ml (1 eetlepel) kakao
375 ml (1½ koppie) warm water
Room die botter en suiker saam.
Voeg die eier by en klits tot romerig.
Sif die meel, bakpoeier, sout en kakao saam.
Voeg by die eiermengsel, om die beurt met die melk.
Meng goed en skep in ’n groot, gesmeerde oondvaste bak.
Sous:
Meng die suiker en kakao saam en sprinkel oor die deeg.
Giet die warm water stadig oor die deeg, moenie roer nie.
Bak vir omtrent 45 minute in ’n voorverhitte oond teen 180°C of tot gaar.
Sit voor met vla of geklopte room indien verkies.









Jeanette Martins – Die chocolate poeding op die blog is ‘n gróót treffer! Sal dit vir seker weer maak. Dankie!