
LEMOENPOEDING MET SOUS
Vla:
250 ml (1 k) water
250 ml (1 k) suiker
sap en skil van 1 lemoen
45 ml (3 e) vlapoeier
45 ml (3 e) koue water
Koek:
1 eier
125 ml (½ k) suiker
250 ml (1 k) meel
5 ml (1 t) bakpoeier
’n knippie sout
30 ml (2 e) botter, gesmelt
125 ml (½ k) melk
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n oondvaste bak van 23 x 13 cm.
Vla – Kook die water, suiker, sap en skil in ’n kastrolletjie.
Meng die vlapoeier en koue water en voeg dit by die suikerwater terwyl jy klits tot dit verdik. Verwyder van die hitte.
Koek – Klits die eier en suiker tot bleek. Sif die meel, bakpoeier en sout in en meng deur met ’n spatel.
Voeg die gesmelte botter by en meng. Voeg die melk by en meng deeglik.
Giet die vla in die bereide bak en giet die koekmengsel oor die vla, Bak 30-40 min. on die voorverhitte oond of tot dit goudbruin is en ’n toetspen skoon uitkom.
Marisa Visagie van Noordwes het vir ons dié eenvoudige dog heerlike resep gestuur. Dis haar staatmaker vir familiebyeenkomste en Sondagmiddagetes, want dit is altyd ’n wenner.
Stien Rust – My dogter het die naweek vir ons hierdie lemoenpoeding met ‘n sous gemaak, sy het net per ongeluk suurlemoen in plaas van lemoen gebruik, maar dit het nog steeds heerlik uitgekom. Sal net volgende keer die koekdeel dubbeld maak, want die sous is nogal baie vir die dun laag koek.






