NIKS FANCY-HOENDERPASTEI
Oondtemperatuur: 180 ˚C
1 groot hoender
1 ui, geskil en in wiggies gesny
4-6 knoffelhuisies
1 hoenderaftreksel-blokkie
Deeg
4 koppies (545 g) koekmeel
500 g bevrore botter
3 groot eiergele, liggies geklits
250 ml yskoue water
15 ml witwynasyn
Sit die hoender in ’n groot kastrol. Voeg die uiewiggies, knoffelhuisies en aftrekselblokkie by en bedek met water. Verhit tot kookpunt, sit die deksel op en verlaag die hitte sodat dit prut. Laat prut vir 40 minute of tot die hoender sag is.
Haal die hoender uit die kastrol en hou van die aftreksel eenkant. Trek die hoender se vleis af en sny dit in klein stukkies. Gooi die vel en bene weg. Meng ’n bietjie van die aftreksel wat jy uitgehou het met die hoender sodat dit ’n ferm, maar klam mengsel is. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Deeg
Meng die meel en 5 ml sout saam. Rasper die botter by die meel in en vryf dit dan liggies met jou vingerpunte in. Meng tweederdes van die eiergeelmengsel met die yswater en asyn. Roer dit by die meel om ’n deeg te vorm. Bedek met kleefplastiek en sit in die yskas tot ferm.
Werk op ’n oppervlak waaroor jy liggies meel gestrooi het en rol die deeg in ’n reghoek uit. Vou die een kort sy van die deeg in en vou dan die ander daaroor. Rol die deeg weer uit. Verdeel dit in die helfte. Verseël die een helfte in ’n plastieksak en vries dit vir ’n volgende keer. Hou die ander helfte van die deeg in die yskas tot jy die pastei gaan bak.
Rol die deeg uit en sny dit middeldeur. Gebruik die een helfte om ’n gesmeerde pasteibak te voer. Skep die vulsel op die deeg. Bedek met die ander stuk deeg. Druk die kante vas.
Verf die res van die eiergeel booor die deeg. Bak in die verhitte oond vir 30 minute of tot die deeg bros en goudbruin is. Sit warm voor met slaai.
Resep: Ria Cronje