LEWER 1 groot ringkoek
Koek:
250 ml (1 koppie) koekmeel
5 ml (1 teelepel) bakpoeier
5 ml (1 teelepel) koeksoda
5 ml (1 teelepel) fyn kaneel
2 ml (½ teelepel) sout
200 ml bruinsuiker
2 eiers, geklits
180 ml (¾ koppie) kookolie
5 ml (1 teelepel) vanieljegeursel
100 g neute, gekap
2 appels, gerasper
500 ml (2 koppies) wortels, gerasper
Roomkaasversiersel:
Sien onder hoe om te maak
Spuit ’n mikrogolfringpan (of gebruik ’n silikoonpan) en voer die boom met bakpapier uit.
KOEK Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak.
Klits die bruinsuiker, eiers, olie en vanieljegeursel saam en giet oor. Meng deur.
Voeg die res van die bestanddele by en meng deur. Skep in die voorbereide pan.
Plaas op ’n omgekeerde piering in die mikrogolfoond en mikrogolf 12-14 minute op hoog of tot die koek effens wegtrek van die kante van die pan. Keer uit op ’n draadrakkie.
ROOMKAASVERSIERSEL Berei die versiersel en smeer oor koek.
Maak so roomkaasversiersel (gebruik die blok indien moontlik)
Meng die volgende baie goed met ’n klitser of houtlepel:
60 ml (¼ koppie) botter
250 g roomkaas
(Albei bestanddele moet by kamertemperatuur wees.)
Voeg 5 ml (1 teelepel) vanilla geursel by en meng weer goed.
Sif 125 ml (½ koppie) versiersuiker bo-oor terwyl jy steeds meng tot die mengsel baie glad is.
Foto: Adam Cloete
Nota: Ek het weer hierdie mikrogolf wortelkoek probeer en hierdie keer pynappel in plaas van gerasperde appels ingesit. Ek het myself oortref!! Dit is onbeskryflik lekker. Het so ‘n lekker glipsie met die topping ook gehad. Had nie vanilla nie, toe wou ek caramel essence insit. Vat toe verkeerde botteltjie raak en gooi ‘n telepel brandewyn essence in. Mense, is dit LEKKER!
Rina Kleinhans: Ek het dit in klein pannetjie gebak en na 5 min was hulle perfek, moenie te vol skep nie.










