VOLSTRUISNEK KERRIE
Adrian sê hy het nie ‘n resep nie, maar dis wat hy gedoen het. Die volstuisnek is eers vir 20 minute gestoom, anders moet jy dit baie langer kook. Intussen het hy die wortels en aartappels net bietjie in die Mikrogolf gekook tot dit halfpad gaar is. Die vleis is uit die pot gehaal en saam met uie in ‘n ander pot gebraai terwyl die sous eenkant gehou word. As die uie begin sag word, word bietjie van die sous by die vleis gegooi sodat dit begin kook saam met ‘n paar naeltjies en heel koljander.
Intussen meng hy een teelepel vleis masala, een teelepel gewone medium sterkte kerrie en ‘n halwe teelepel borrie met ongeveer 2 eetlepels tamatiepasta en roer die res van die vleissous by. (Daar was ongeveer 1 1/2 koppie sous in die stoompot). Dit word nou by die vleis gevoeg, saam met sout na smaak. Kook vir ongeveer nog 15 minute en voeg die aartappels, wortels en opgesnyde murgpampoentjies by. Kook tot die groente sag is en roer nou en dan sodat dit nie aanbrand nie. Indien meer vloeistof nodig is, voeg bietjie water by, maar jy wil ‘n dik souserige gereg hê en nie sop nie.
Bron: Adrian Olivier
Foto: Adam Cloete









Sophia Pohl
Net gou terugvoer gee. Die volstruisnek kerrie van Adrian Olivier was n treffer. Vleis het murgsag uitgekom. Te heerlik gewees, as ek dit weer maak sal ek n foto op sit.