Neem een heel skoongemaakte Geelstert vis waarvan die vel afgetrek is, maak snye teen die kante (score). Vryf dit in met growwe sout en plaas in die yskas. Dit is beter indien jy fillette het wat jy in opdien stukke kan opsny en dit sal ook die kooktyd verminder.. Skil en sny twee uie in dun skywe en braai dit in bietjie olie tot deurskynend.
Voeg dan een teelepel gemmer poeier, 2 fyngemaakte knoffelhuisies, 2 lourierblare, 1 teelepel borrie, ½ teelepel rissiepoeier, 1 teelepel vis-masala, 1 teelepel cumin en koljanderpoeier gemeng en 1 teelepel gewone kerrie (sterkte van jou keuse) saam met 2 kaneel stokkies by die uie en roer vinnig vir twee minute. Voeg die inhoud van 1 blikkie gekapte tamaties en ½ koppie water by, geur met sout (onthou die vis is ook gesout), bedek en prut vir 15 minute.
Plaas die vis in die sous, bedek weer en prut verder vir ongeveer 20 minute of tot die vis gaar is. Draai die heel vis ‘n paar keer om tydens die kookproses. Om bietjie lyf aan die gereg te gee het ek ‘n bietjie gemengde, gevriesde groente sag ge-mikrogolf en 5 minute voor die einde van die kooktyd bygevoeg. Haal die lourierblare uit en skep oor in ‘n bedienbak. Indien jy die heel vis gebruik het, kan jy dit nou versigtig oopmaak, die ruggraat uithaal en in stukke sny. Bedien warm op rys of fyn aartappels.
Bron en foto: ADAM CLOETE