NETTA BURDEN SE PLAASBROOD MET AARTAPPELSUURDEEG
2.5 kg broodmeel
1 groot aartappel, ongeskil, afgewas en halveer
lou water
½ teelepel sout
½ koppie suiker
Om in te suur vir broodbak benodig jy heelwat warmhougoed soos bv ou tafeldoeke, ou komberse, soos babakombersies of soos ons gebruik het oorgetrekte komberse (gee lekker karakter aan jou doeke), koerantpapier en winkel sakke.
Kook die water en ‘dek’ intussen jou warmhoubed.
Vir die buitenste laag wat dus onder die skottel gaan lê, gebruik jou grootste toedraai kombers, want dit moet alles lekker bymekaar hou.
Plaas nog ‘n kombersie of 2, want die suurdeeg moet vir ongeveer 8 ure warm bly word om te ontwikkel.
Dan ‘n koerant en dan ‘n winkelsak waarin jy die kastrol of emmer of wat jy ookal gaan gebruik om suurdeeg in aan te maak gaan plaas.
Ek gebruik ‘n 2 liter kastrol en vul dit so half met kookwater.
Plaas die aartappel in die water in die kastrol en voeg die sout en suiker by.
Laat die water en aartappelmengsel afkoel ± 15 – 20 min (jy moet jou vinger vir 10 tellings daarin kan hou en nie brand nie, as dit te warm is, sal die deeg dood brand).
Gebruik ‘n vurk en klits van die meel, bietjies-bietjies in die water en aartappelmengsel, totdat dit amper soos ‘n koek se deeg lyk, dalk ‘n bietjie stywer.
Strooi ‘n bietjie droë meel bo-oor, plaas die kastrol se deksel op en plaas dit in die inkopiesak, sodat die suurdeeg later in die sak kan ‘oorloop’, dan is jou doeke nie bemors met suurdeeg nie.
Vou die kante van die sak lekker om die kostrol en dan begin jy met elke kombersie apart omvou tot die laaste groot kombers.
Dis belangrik dat die suurdeeg warm bly, wintertyd het ek later in die aand ‘n warmwatersak op die kastrol gaan plaas.
Ongeveer 8 – 10 ure later kan jy begin loer, die kastrol moet vol ‘geskuim’ wees, soos die deeg gerys het.
Somtyds loop die suurdeeg al oor die randte van die kastrol teen hierdie tyd.
As die kastrol nog nie vol is nie, maak seker dis nog sterk louwarm, indien nie maak sterk louwarm water en voeg dit in ‘n groot bak of skottel en plaas die kastrol met die sak om, binne in die water.
Bedek weer met die warmmaakgoed en laat staan om te rys.
Wanneer die suurdeeg gereed is (kastrol vol gerys), verwyder die aartappel uit die suurdeeg.
Kook ekstra water vir die knieproses.
Neem verskeie bekers (ongeveer 4 x liter bekers) waarin jy die water kan gereed kry vir die knieproses.
1 ste beker – voeg bietjie sout in en vul die beker sowat halfvol met warmwater, voeg koue water by tot die regte temperatuur, jy moenie die deeg brand nie, maar dit moet warm genoeg wees, sodat die deeg weer kan rys. Herhaal met die ander bekers.
Voeg die res van die 2.5 kg meel in ‘n knieskottel, maak ‘n groterig holte in die middel en giet die suurdeeg in die holte en bedek dit met die meel.
Giet sommer die eerste lou soutwater in die suurdeegkastrol om uit te spoel, dan kry jy die maksimum suurdeeg in die deeg.
Meng die suurdeeg deur die meel en voeg die louwater bietjies bietjies by soos benodig.
Die deeg moenie te slap wees nie, rol die deeg om en om.
Dit moet ‘n stywe deeg wees wat jy kan knie, nie te styf nie, anders rys die deeg nie lekker nie.
Die deeg sal gereed wees as dit nie meer aan jou hande kleef nie.
Vryf die laaste deeg van jou hande af met bietjie droë meel.
Strooi bietjie meel bo-oor die deeg (dis opsioneel) en plaas die skottel op ‘n houer met sterk louwater om te rys.
Gooi weereens die warmhougoedjies bo-oor en laat staan totdat dit ongeveer dubbel gerys het in volume.
Ek het in my buiteoond vuurgemaak!
Smelt intussen ‘n bietjie ‘sousvetjies’ (ai op die plaas was die vet wat ons uitgebraai het soooo lekker, sousvet is die vetjies wat jy afgooi, wanneer jy vleis gekook het), jy kan ook margarien gebruik.
Skakel die oond aan op louwarm, ek kan nie presies die temperatuur gee nie.
Wanneer die deeg klaar gerys het, maak sommer met jou vuis gate in die deeg en stort oral bietjies van die vet / margarien oor die deeg en begin knie die deeg totdat die vet of smeer lekker deur geknie is.
Maak stukke van die deeg af en plaas in voorbereide panne tot ongeveer halfvol. Ek het die panne eers bietjie in die oond geplaas om effens warmer te word, nie té warm nie, net lou.
Druk die deeg netjies en laat weer die deeg in die panne tussen jou warmmaakgoedjies rys.
Ek het ook ‘n ‘bed’ voorberei vir die panne. Onder, genoeg komberse of doeke vir lekker hitte, dan die panne en dan ‘n doek bo-oor en verder weer kombersies.
Wanneer jy dit klaar gedoen het, verhoog die oond se hitte tot 180ºC.
Wanneer die panne vol gerys het, smeer geklitste eier bo-oor (of melk) en plaas die panne in die oond.
Bak die brode ongeveer 1 uur plus, draai die panne so elke 20 minute (agterstevoor of onderste panne boonste rak toe).
Wanneer die brode mooi bruin bo-op en die brood lekker lig voel, is dit reg.
Keer die brode uit die panne op doeke, soms moet ek eers met ‘n skerp mes die kante losmaak.
Maak die brode liggies toe met ‘n doek en laat die brode afkoel.
Resep: Netta Burden
Foto: Johan Coetzee
One thought on “NETTA BURDEN SE PLAASBROOD MET AARTAPPELSUURDEEG”
Leave a comment
You must be logged in to post a comment.
Geskuif